VAN RENSBURG, CORNELIS JANSE (NELIS)

VAN RENSBURG, CORNELIS JANSE (NELIS) (1960-) het in Riversdal grootgeword waar sy pa burgemeester en later Volksraadslid vir Mosselbaai was. Hy studeer vir predikant* aan die Universiteit van Stellenbosch, en dien as NG Kerk*-leraar in die gemeentes Kangovalleie, Postmasburg en Welgemoed. Hy tree as voorsitter van die Sinode van Noord-Kaapland op en word agtereenvolgens skriba, assessor (ondervoorsitter) en moderator* van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland. In 2015 word hy verrassend tot moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk verkies. Van Rensburg moes kerklike leiding gee te midde van skerp meningsverskille oor onder andere die posisie van die Belydenis van Belhar* en dié van gay lidmate in die NG Kerk. Met hom in die voorsitterstoel, het die Algemene Sinode die historiese besluit geneem dat homoseksuele* trouverbintenisse kerklik bevestig en geseën kan word, maar ‘n Buitengewone Algemene Sinode (BAS), waarvan hy ook die voorsitter was, het die besluit in 2016 omgekeer. Die saak het in 2018 in die Hooggeregshof beland toe 12 lidmate gevra het dat die 2015-besluit herstel moet word. Van Rensburg het dit in ‘n artikel in Kerkbode (12 Sept 2018) duidelik gestel dat sy persoonlike siening oor die kwessie anders is as die BAS 2016 s’n: “Ek is oortuig dat seksuele orientasie ‘n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele orientasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense. (…) Vir homoseksuele mense om te floreer, moet hulle seksualiteit myns insiens gelykwaardig aan heteroseksualiteit beskou word.”. Met hom aan die stuur, is die NG Kerk se verhoudinge met ekumeniese* liggame en kerke binne- en buitelands sterk uitgebou. Van Rensburg slaag daarin om as persoon omstredenheid te vermy hoewel hy kerklike leiding moet gee te midde van skerp meningsverskille oor onder andere die posisie van die Belydenis van Belhar* en dié van gay lidmate in die NG Kerk. Met hom in die voorsitterstoel, het die Algemene Sinode in 2015 die historiese besluit geneem dat homoseksuele* verbintenisse kerklik bevestig en geseën kan word. Hy was egter ook die voorsitter toe ’n spesiale Algemene Sinode in 2016 dié besluit omgekeer het, waarna lidmate regsaksie oorweeg het. Van Rensburg se lewensbenadering kom goed oor in ’n artikel in Kerkbode (6 Nov 2015): “In alles is die kerk eintlik net met een ding besig: Ons verkondig die heerskappy van Jesus* Christus*. Hy is die heerser oor ons hele lewe. Om in Hom te glo, beteken dat jy alles aan Hom wy: hart en siel, liggaam en gees, gebed en liturgie, geregtigheid en verhoudings – alles wat jy is en het en doen.”

 

Sidebar