VAN RENSBURG, JOHAN JACOB JANSE (FIKA)

VAN RENSBURG, JOHAN JACOB JANSE (FIKA) (1951–) is in Frankfort gebore. Sy spesialiteitsrigting en doktorsgraad is in die verklaarkunde van die Nuwe Testament*. Hy promoveer met ’n proefskrif oor Die ontleding van die sintaktiese struktuur van die Griekse Nuwe Testa­ment: Die ontwerp van ’n metode, toegepas op Romeine 8. Hy het ook ’n meestersgraad in Nuwe-Testamentiese Grieks*. Van 1973 tot 1980 was hy dosent in Grieks aan die PU vir CHO* en predikant* van die Gereformeerde Kerk (GKSA*) Frankfort (1981–1983). Sedert 1983 was hy professor in Nuwe Testament aan Noordwes-Universiteit (PUK-kampus) en die Teologiese Skool Potchefstroom. Tot 2002 was hy redakteur van In die Skriflig en sewe jaar lank Nuwe-Testamentikus vir die SAUK se radioprogram Wat sê die Bybel? (1987–1994). Hy was ook ’n aanbieder van die RSG-program Die Bybel in ons lewe. Daarby is hy die redakteur en/of mede­werker van vyf omvattende hulpmiddels by die verstaan van die Bybel: Die Bybel in Praktyk, die 1983-Vertaling se Verwysings­bybel, die eerste Afrikaanse eenvolume kommentaar op die Bybel, Die Bybellen­nium (in 2000 met die Andrew Murrayprys* bekroon), Die Bybel A-Z (in 2004 met die Andrew Murrayprys bekroon) en Die Multi­vertaling-Bybel. Hy is die Suid-Afrikaanse universiteite se verteenwoordiger vir gees­teswetenskappe in die regering se Nasio­nale Standaarde-Liggaam. Die Suid-Afri­kaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die Pieter van Drimmelen­medalje vir Bybelvertaling en teologiese handboeke in 1999 aan hom toegeken.

Sidebar