VAN RENSBURG, JOHAN JANSE

VAN RENSBURG, JOHAN JANSE (1946–) is een van min mense met drie doktorsgrade in die teologie*. Hy het aanvanklik aan die universiteite van die (Oranje-) Vrystaat en Stellenbosch studeer en is in 1970 as predikant* van die NG Kerk* gelegi­timeer*. Mettertyd behaal hy drie DTh’s: in 1979 aan die Universiteit van Stellenbosch oor Die herwaardering van rewolusie in die moderne teologiese sosiale etiek. ’n Kritiese studie; in 1987 aan die Universiteit van Suid-Afrika oor ’n Kritiese ondersoek na die moontlike gebruik van hipnose in die psigo-pastorale arbeid, en in 1991 aan die Universiteit van die Vrystaat oor ’n Kritiese ontleding van moralisme in die prediking. Hy is in 1994 as dosent in die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat aangestel, waar hy later die hoof van die departement praktiese teologie geword het. Hy het ook in die moderamen van die Vrystaatse sinode* gedien. Van Rensburg het verskeie boeke en talle wetenskaplike en populêre artikels gepubliseer. Hy is teologies sterk gereformeerd*-behou­dend en laat hom krities uit oor sake soos die vereniging van die NG Kerkfa­milie* en homoseksualiteit*. Terwyl hy herhaaldelik skryf dat hy nie “teen” die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie is nie (wat sedert die 1970’s met stampe en stote in dié kerke aan die gang is), beklemtoon hy: “As gedwonge, oorhaastige of ondeur­dagte strukturele eenheid tot groter ver­deeldheid lei, kan dit nie tot orde dien nie en ook nie tot die welwese van die kerk bydra nie” (Kerkbode, 9 Maart 2007). Van Rensburg is ’n kranige skilder wat etlike kalenders van diere en roofvoëls gepubli­seer het.

Sidebar