VAN RENSBURG, NICOLAAS PIE­TER JOHANNES JANSEN (NIKLAAS, SIENER)

VAN RENSBURG, NICOLAAS PIE­TER JOHANNES JANSEN (NIKLAAS, SIENER) (1864–1926) is deur sy ma geleer om te lees en te skryf en het klaarblyklik nooit iets anders as die Bybel* gelees nie. Hy het sy profesieë trouens periodiek aan die hand van Bybeltekste gemaak. As gelowige Christen* was hy in ’n sekere sin ’n apokaliptiese profeet (Kyk by: Apokaliptiek) wat “openbarings” en “bekendmakings” van God uitgelê het. Van Rensburg het reeds op agtjarige ouderdom “gesigte” begin sien en het veral gedurende die Anglo-Boereoorlog* en die Rebellie* (1914) mense verstom met sy korrekte voorspellings. Hy het gedurende die oorlog ná die Slag van Kraaipan in Oktober 1899 vlugtende vroue en ’n verskroeide land gesien wat teen die einde van die oorlog ’n werklikheid geword het. Vir Van Rensburg was die vreesaanjaendste visioen dié in verband met die dood van sy vriend Koos de la Rey* tydens die Rebellie. Van Rensburg het self die grootste deel van 1915 in die tronk deur­gebring waar hy sy eie vrylating voorspel het. Van Rensburg het algaande as die legendariese Siener bekend geword wat ook gebeure in die verre toekoms voorsien het soos die ondergang van die Nasionale Party en die opkoms van ’n swart mag en rege­ring.

Siener van Rensburg was ’n stil en tenger mens wat al in sy vroeë dertigerjare grys was en as Oom Niklaas of Oom Klaas aan­gespreek is – hy was toe reeds ouderling van die Nederduitsch Hervormde Kerk* op Wolmarans­stad. Van Rensburg het na bewering sowat 700 “gesigte” gesien waarvan die meeste deur sy dogter, Anna Badenhorst, op jeug­dige ouderdom vanaf Augustus 1916 op skrif gestel is. Volgens latere uitsprake kon Van Rensburg bygedra het tot die vorming van regse godsdienstige groeperings.

Vir verdere lees: A Snyman 1999. Siener van Rensburg: Boodskapper van God. Kaapstad: Vaandel-Uitgewers

Sidebar