VAN RHIJN, REMBRANDT HARMENSZOON

VAN RHIJN, REMBRANDT HARMENSZOON (1606–1669) is in Leiden, Nederland, gebore. Hy ontvang kunsonderrig van Pieter Lastman in Amsterdam. Vroeg reeds was hy aangetrokke tot Bybelse* narratiewe. Sy eerste geniale werk met ’n Bybeltema is Die steniging van Stefanus (1625). Die Italiaanse meester, Caravaggio, het die belangrikste invloed op Rembrandt se werk uitgeoefen. Waar Caravaggio ’n stralekrans rondom heiliges se kop geplaas het, het Rembrandt dit tot ’n verheerlikte lig verfyn. Tussen 1620–1669 het Rembrandt negentig selfportrette – ’n ongeëwenaarde outobiografie – geskep. Hy was een van die produktiefste kunstenaars ooit – 2 300 werke het oorleef: 600 skilderye, 1 400 tekeninge en 300 etse.

Die narratief van sy Bybelse temas was vir hom nie die hoofdoel nie, maar die werklikheid van emosie wat universeel geldend is. Om só te werk, was vir hom om “naby” God en/of Christus* te wees. Om dié rede was sy familie – en hyself – dikwels sy modelle. Vir skilderye waarin Christus fi­gureer, is Amsterdamse Jode as modelle gebruik. Sy voorstellings van Christus was anders as dié van sy tyd. Christus was vir hom die Kneg van Jes 53 en Maria die mater dolorosa. Vir hom moes nie net die opgestane Christus verheerlik word nie, maar mense moet hulle ook met sy lydens­weg identifiseer.

Rembrandt was Protestants* van geloof, en ook betrokke by die Mennoniete* (Doopsgesindes). Hy het die Bergrede* die sentrum van sy geloof gemaak. Christus was vir hom leermeester en heler.

In die argief van die Gereformeerde Kerk in Amsterdam is daar vier inskrywings in 1654 waar Rembrandt en sy houvrou, Hendrickye, gedagvaar word om voor die kerkraad te verskyn oor hulle buite-egtelike verhouding en die twee kinders wat uit daardie verbintenis gebore is. Hy is be­grawe in die Westerkerk, Amsterdam.

Vir verdere lees: WA Visser ’t Hooft 1957. Rembrandt and the Gospel. Philadelphia: Westminister Press. A Bredius 1969. Rem­brandt: The Complete Edition of Paintings. Londen: Phaidon

Sidebar