VAN RIEBEECK, JOHAN ANTHONISZOON (JAN)

VAN RIEBEECK, JOHAN ANTHONISZOON (JAN) (1619–1677) het uit ’n Protestantse* familie gestam wat ’n leidende rol gespeel het in die gerefor­meer­de* gemeente van sy geboortedorp, Culem­borg. Hy tree as twintigjarige in 1639 in diens van die Vereenigd Oost-Indische Compagnie* (VOC) en kom in 1640 in Batavia as VOC-klerk aan. Tussen 1643 en 1647 werk Van Riebeeck in Japan en word bevorder tot onderkoopman. Hy word egter van onwettige privaathandel aange­kla en in 1648 keer hy met die retoervloot na Nederland terug. Tydens dié vaart is daar in Maart 1648 in Tafelbaai aangedoen om van die skipbreukelinge van die Haer­lem (1747) aan boord te neem. Van Riebeeck is op 28 Maart 1649 met Maria de la Quellerie, dogter van ’n Waalse predi­kant*, in Schiedam se Groote Kerk getroud.

Minder as drie jaar later vertrek die egpaar en hulle babaseuntjie Lambertus aan boord van die Dromedaris, een van drie skepe, na die Kaap waar die 32-jarige Van Riebeeck en sy geselskap van minder as 150 persone ’n nuwe maritieme aanvulling- en halfwegstasie na en van die Ooste namens die VOC moes gaan stig. Ná ’n verblyf van tien jaar aan die Kaap, is Van Riebeeck in November 1662 aangewys as hoof van die Kompanjiespos in Malakka, waar Maria kort na hulle aankoms gesterf het. Jan is weer in 1665 getroud met die weduwee Maria Scipio en keer na Batavia terug waar hy sekretaris van die goewerneur-generaal en raad van Nederlands-Indië word. Van Riebeeck is in Januarie 1677 in die Portu­gese kerk in Batavia begrawe.

’n Belangrike uitvloeisel van die Van Riebeecks se stigtingspogings aan die Kaap was die feit dat die Westerse beskawing én die Christelike gereformeerde godsdiens in Suid-Afrika gevestig is. Onder die inheemse bevolking is die Khoekhoen*-meisie Krotoa* as eerste bekeerling net drie dae voor die Van Riebeecks se vertrek as Eva*2 gedoop. Van Riebeeck het uit die staanspoor bepaal dat die sieketrooster* elke aand ná ete ’n gebed moes doen en twee of drie psalmverse laat sing. Sondae is ’n preek deur die sieketrooster uit ’n preekbundel voorgelees en is jonger persone in die kategismus* onderrig. Swaar strawwe is vir afwesigheid by eredienste op Sondae opgelê.

In 2015 het pres Jacob Zuma* die mening uitgespreek dat “al die moeilikheid” in Suid-Afrika met Van Riebeeck se aankoms in die Kaap begin het.

Vir verdere lees: AJ Böeseken 1974. Jan van Riebeeck en sy gesin. Kaapstad, Johan­nesburg: Tafelberg.

Sidebar