VAN RIEBEECK, MARIA (DE LA QUELLERIE)

VAN RIEBEECK, MARIA (DE LA QUELLERIE) (1629–1664) se pa en oupa was albei Waalse predikante* en haar huistaal was dus Frans en Nederlands. Sy trou op 28 Maart 1649 in Schiedam met Jan van Riebeeck* vir wie sy minder as drie jaar later na die Kaap vergesel as 22-jarige vrou met ’n babaseuntjie. Sy het haar pligte as kommandeursvrou nougeset nagekom en met haar eggenoot voed hulle die Khoe­khoen*-meisie Krotoa* (Eva*2) op en lei haar tot geloof in die Christelike godsdiens.

Die Franse biskop Nicolaes Etienne beskryf Maria as ’n wyse vrou wat onder almal bemind was, sonder enige voor­oordeel en met ’n deeglike kennis van die Bybel*. Sy was ook bekend met die smart en leed van die lewe. Drie van haar nege kinders is jonk oorlede. Sy is vyf dae ná haar 35ste verjaarsdag in Malakka aan pokke dood en in die St Paulikerk begrawe.

Vir verdere lees: AJ Böeseken 1974. Jan van Riebeeck en sy gesin. Kaapstad, Johannesburg: Tafelberg.

 

Sidebar