VAN ROOY, HERCULAAS FREDERIK (HERRIE)

VAN ROOY, HERCULAAS FREDERIK (HERRIE) (1949–) is in Kaapstad gebore, studeer aan die Potchefstoomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO)* en promoveer in Semitiese tale, 1977. Hy was predikant* van die Gereformeerde Kerk (GKSA)* Koster (1977–1980), en senior lektor, mede-professor en professor in Semi­tiese tale* aan die PU vir CHO. Van Rooy was dekaan en ook navorsingsdirekteur van die Fakulteit Teologie. Hy was bestuurslid (1988–2000) van die Suid-Afrikaanse Vereni­ging vir Semitistiek en voorsitter (1997– 2000) en sekretaris (1992–1998) van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap. Daarby is hy een van die twee lede van die advies­komitee van OudTestamentische Studieën – die publikasiereeks van die Nederlandse Ou-Testamentiese Werkgemeenskap. Van Rooy en sy eggenote (Jacoba, gebore Van der Walt) het in die redaksie van die 2003-Afrikaanse Psalmboek gedien. Hy het in 2003 die Pieter van Drimmelenmedalje* van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, in die besonder vir sy bydrae tot die Psalm*-omdigting. Nasionaal en internasionaal is Van Rooy ’n uitnemende en gerespekteerde akademikus.

Sidebar