VAN RULER, ALBERT ARNOLD

VAN RULER, ALBERT ARNOLD (1908–1970) word beskou as een van die oorspronklikste teoloë van die 20ste eeu. Onmiddellik ná voltooiing van sy magistrale proefskrif, De vervulling van de wet, is Van Ruler in 1947 aangestel as kerklike hoogleraar aan die Rijksuniversiteit van Utrecht. Sy aanvanklike pogings om ’n teokratiese visie (Kyk by: Teokrasie) vir die na-oorlogse Euro­pese Christendom* uit te werk (Religie en politiek, visie en vaart, droom en gestalte), is in die 1950’s aangevul met ’n dinamiese verstaan van die kerk* binne sy “apostolaats­teologie”, wat tot ’n nuwe kerkorde vir die Nederlandse Hervormde Kerk gelei het. Die “staatskerk” het ’n kerk geword in diens van die wêreld, en veral in diens van God se koninkryk*. Beroemd is Van Ruler se uitspraak dat ons nie geskep is om Christene te word nie, maar om méns te word. Volle mens-wees voor God se aangesig is die doel.

In die 1950’s het Van Ruler ’n aantal ge­skrifte in Duits gepubliseer (Die Christliche Kirche und das Alte Testament en Ge­stalt­werdung Christi in der Welt), waarin hy ’n trinitariese (Kyk by: Drie-eenheid) teëvoeter probeer vind het vir die eng Christologiese (Kyk by: Christologie) lesing van die Bybel* en die werk van God, wat volgens hom in ’n katastrofiese dualisme en selfs gnostisisme* eindig. Sonder om sy aandag aan die sosiale en politieke aspekte van die evangelie* prys te gee, het Van Ruler se klem in die 1960’s verskuif na die uitdaging aan die kerk om mense vóór te gaan in ’n liturgie* van die volle lewe; om ’n nuwe mistieke betekenis in die skepping en die lewe self te vind, wat ten diepste met God te maak het. Sy teokratiese visie, wat moeilik direkte politieke gestalte kan kry in ’n gesekulariseerde samelewing, leef voort in ’n bewuste trinitariese verstaan en waardering vir die lewe – ’n lewensfilosofie van vreugde in God se werk.

Die durende relevansie van Van Ruler se dinamiese Christelike denke, waarin die mens as bondgenoot van God ’n sentrale rol speel en selfs bereid moet wees om “sy mannetjie” teenoor God te staan, het waar­skynlik te doen met die manier waarop Van Ruler dekades gelede reeds besig was om die modernisme* te relativeer sonder om in ’n postmoderne* relativisme* te verval. Wars van alle dualismes en wêreldvreemde vroomheid, is Van Ruler se teologie – soos dié van Bonhoeffer* – ’n teologie vir die vólle lewe.

Sidebar