VAN SCHOOR, MARTHINUS CORNELIUS (TIENIE)

VAN SCHOOR, MARTHINUS CORNELIUS (TIENIE) (1880–1967) het deur privaat studie hom as elektrotegniese ingenieur bekwaam. Nadat hy in 1908 by ’n firma op Brakpan begin werk het, sluit hy in 1911 by die Suid-Afrikaanse Spoorweë aan en werk in Kimberley, Port Elizabeth, Windhoek en Bloemfontein. Dáár lê hy hom toe op die verbetering van ’n enkellyntreinbeheerstelsel. Die stelsel wat hy in 1933 vervolmaak, word sedert 1953 algemeen gebruik. Van Schoor is ’n stigterslid van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) vir spoorwegpersoneel. Hy het lank in die hoofbestuur van die ATKV gedien. In 1938 was hy leier van die hooftrek van die simboliese ossewatrek – en sy voetspoor lê op baie plekke in Suid-Afrika in sement verewig. Hy het gesorg dat die ossewatrek sy godsdienstige karakter behou, en het meermale gesê: “Leiers van ons volk moet ook leiers van ons kerk wees.” Hy is ook die stigter van die SA Noodhulpliga en die eerste hoofkommissaris (nasionale voorsitter) (1941–1966). In 1945 is die Havengaprys aan hom toegeken en in 1951 ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Stellen­bosch.

Sidebar