VAN SELMS, ADRIANUS

VAN SELMS, ADRIANUS (1906–1984), Nederlander van geboorte, studeer lettere en teologie aan die Rijksuniversiteit van Utrecht. In 1930 word hy predikant van die Nederlandse Hervormde Kerk te Hansweert en later te Culemborg. Hy verwerf sy DTheol in 1933. In 1938 word hy senior lektor in Semitiese Tale aan die Universiteit van Pretoria en in 1948 professor en hoof van dié departement. Hy gee rigting aan die studie van Ou Testament* en Semitiese tale* en stig die Ou-Testamentiese Werkge­meen­skap. Sy liefde vir sy vakgebied dra hy as dosent en promotor aan sy studente oor en hulle beman leerstoele aan vele Suid-Afrikaanse universiteite. Hy was volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir We­ten­skap en Kuns, wat ook die Stalsprys aan hom toegeken het (1976). Unisa vereer hom met ’n eredoktoraat in die teologie* en die Universiteit van Pretoria met die toekenning van ’n DLitt. Hy beskik oor ’n onuitputlike drif om boeke te publiseer – 363 titels. In Tekst en uitleg is hy verantwoordelik vir ’n groot aantal boeke van die Ou Testament. Sy boek God en de menschen is 10 keer herdruk. Hy was tegelyk hartstogtelike getuie vir Christus*, prediker en teoloog.

 

Sidebar