VAN STADEN, FRANCOIS ALWYN (FRANS)

VAN STADEN, FRANCOIS ALWYN (FRANS) (1927–) het vir predikant* aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy bedien die NG gemeente Edenvale van 1953 tot 1957, waarna hy verder in die teologie* studeer. Hy behaal in 1973 ’n doktorsgraad in die geskiedenis van die Christendom* en kerkreg*, en is van 1973 tot 1981 die hoof van publikasies van die destydse NG Kerk Boekhandel (Transvaal), terwyl hy van 1974 tot 1981 ook as lid van die provinsiale raad gedien het. In 1981 word hy lid van die parlement, en tree in 1987 uit die aktiewe politiek. Van Staden was in die politiek bekend vir sy behoudende standpunte – hy was parlementslid van die Konserwatiewe Party – en het in 1987, met die totstandkoming van die Afrikaanse Protestantse Kerk (AP Kerk)*, uit die NG Kerk* na die nuwe kerk oorgegaan omdat hy verskil het met die beleidstuk Kerk en samelewing waarin apartheid* in kerk en staat in die spervuur gekom het. In daardie jaar is Van Staden versoek om ’n konsep-kerkorde vir die AP Kerk op te stel en te help met voorberei­dings vir die eerste sinodesitting. By hierdie sinode is hy en ander belas met die oprig­ting van ’n teologiese skool vir die AP Kerk. Van Staden was sedert Oktober 1988 hoof van dié skool, wat later Die Afrikaanse Prote­stantse Akademie geword het. Op die terreine van ’n konsekwent-gereformeerde* kerk­orde, kerkinrigting en teologiese opleiding soos die AP Kerk dit sien, het Van Staden ’n deurslaggewende rol gespeel.

 

Sidebar