VAN WARMELO, NICOLAAS JACO­BUS

VAN WARMELO, NICOLAAS JACO­BUS (1835–1892) het in 1864 van Nederland na die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gekom, waar hy predikant* in die Ned Hervormde Kerk* word, aanvanklik te Schoe­mansdal (Noord-Transvaal) en vanaf 1868 te Heidelberg (Transvaal). Hy het van die staanspoor af met sy bekwaamheid en minsame (maar ferm) geaardheid beïndruk. In 1869 is hy verkies tot sinodale skriba, ’n amp wat hy tot 1885 met onderskei­ding beklee het. Hy het ook gehelp met die smee van ’n beter verhouding tussen die Hervormde Kerk en die Kaapse NG Kerk*. In 1877 het sir Theophilus Shepstone die ZAR namens Brittanje geannekseer – wat tot die Eerste Anglo-Boereoorlog gelei het. Die suksesvolle afloop van dié oorlog vir die ZAR, het tot ’n nuwe eensgesindheid onder Transvalers gelei. Samesprekings met die oog op kerkvereniging het tussen die Ned Hervormde Kerk en die NG Kerk in Transvaal begin en in 1885 gelei tot die totstandkoming van die Nederduitsch Hervor­m­de of Gereformeerde Kerk. Ds Van War­melo is tot eerste skriba van die verenigde kerk verkies. Ofskoon die kerkvereniging agterna weer uitgerafel het, het Van War­me­lo tot sy dood predikant van die NH of G Kerk van Heidelberg gebly.

 

Sidebar