VAN WIJK2, ADRIAAN JACOBUS (ATTIE)

VAN WIJK2, ADRIAAN JACOBUS (ATTIE) (1912–1976) kom van vaders- en moederskant uit ’n predikantegeslag – die Murrays, Hofmeyrs en Van Wijks. Sy grootjie van moederskant was ds Andrew Murray*1 sr van Graaff-Reinet, sy grootoom was dr Andrew Murray*2, en sy pa, ook ds AJ van Wijk1, was in ’n stadium skriba en moderator* van die Kaapse sinode* van die NG Kerk*. Hy self was ten tye van sy dood die dienende assessor (ondervoorsitter) van dié sinode. Soos sy pa en oom, het hy ook lank die bekende dagboek, Uit die Beek, geskryf (en nog altyd in die familie, het sy broerskind, ook ds Attie van Wijk – jare lank betrokke by Bybelkor/Bybel-Media* – dié dagboek sedert 2007 meer as ’n dekade lank versorg). Sy seun, eweneens Attie, was ook predikant en van 2000 tot met sy dood in 2004 as prof Van Wijk rektor van die Hugenote Kollege* op Wel­ling­ton.

Van Wijk het ’n meestergraad in siel­kunde aan die destydse Rhodes-universiteitskollege in Grahamstad behaal, en ’n meestergraad in die teologie* op Stellen­bosch. Hy was predikant van Grahamstad, Port Elizabeth, Rondebosch en Stellenbosch – waar hy as skriba van die Kuratorium gedien het, vertroude raadgewer van teologiese studente was en die beursfonds vir Kweekskoolstudente opgebou het. ’n Ge­hoorsaal in die Kweekskool/Teologiese Fakulteit is na hom vernoem.

Sidebar