VAN WOUW, ANTON

VAN WOUW, ANTON (1862–1945), ’n Nederlander van geboorte, was die grondlegger van die beeldhoukuns in Suid-Afrika. Hy het tekenlesse by die Vlaamse argitek Vieillevoye aan die Rotterdamse Akademie ontvang en die Belgiese beeldhouer Joseph Graven het hom in die beeldhoukuns onderrig. Van Wouw het in 1889 in Pretoria aangekom waar hy assistent in ’n vuurwapen- en ammunisiewinkel was. Hy het later tekenlesse by die Staatsmeisjesschool aangebied en as spotprenttekenaar by The Press gewerk.

Van Wouw het die Afrikaners* en hulle geskiedenis goed leer ken en ’n bewonde­ring vir hulle moed, geloof en vasberadenheid ontwikkel. Die welgevormde liggaamsbou en sterk gelaatstrekke van baie van die Afrikaners, het die kunstenaar in hom geboei. Toe hy dus opdragte begin ontvang vir monumentale beeldhouwerk van historiese figure en historiese gebeure, het hy hierdie kenmerke in sy beeldhou­werk vasgevang. Van Wouw se bekendste werke is die Krugerstandbeeld en omringende figure op Kerkplein in Pretoria, asook die Vrouemonument in Bloemfon­tein se beeldegroep wat die lyding van vroue en kinders in Britse konsentrasie­kampe tydens die Anglo-Boereoorlog* (Suid-Afrikaanse Oorlog) uitbeeld. Hy was ook verantwoordelik vir die Voortrekkervrou en kinders voor die Voortrekkermonument in Pretoria. Teke­nend van sy latere bekendheid, het die Rembrandt-groep in 1974 die Van Wouw­huis in Brooklyn, Pretoria, aan die Univer­siteit van Pretoria geskenk wat dit ná restourasie as museum ingerig het.

Vir verdere lees: FAK 1989. Afrikaner­bakens. Goodwood: Nasionale Boekdruk­kery.

 

Sidebar