VAN WYK, DANIËL JOHANNES CORNELIUS (DAAN SR),

VAN WYK, DANIËL JOHANNES CORNELIUS (DAAN SR), (1940–) is in 1964 as predikant* van die Nederduitsch Hervormde Kerk* van Afrika op Kroonstad georden. Hierna het hy onderskeidelik die gemeentes Springs, Verwoerdburg, Johan­nes­burg-Wes en Warmbad bedien, waar hy in 2003 geëmeriteer het. Van 1977 tot 1992 was hy die voltydse redakteur van sy kerk se amptelike mondstuk, Die Hervormer*.

Van Wyk het in 1973 aan die Universiteit van Pretoria gepromoveer met ’n proefskrif getiteld, Die probleem van die algemene openbaring, histories nagegaan en prinsi­pieel getoets.

Hy het hom by uitstek as kerkleier on­derskei. Hy was drie termyne lank voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering – van 1989 tot 1998, ’n stormtydperk in die Suid-Afrikaanse kerklike en politieke geskiedenis. Sy rol in die kerk was in besonder geleë op die terrein van kerklike joernalistiek en hy het ook die inisiatief geneem met die totstandkoming van die gesinsblad, Konteks. Hy beskik oor kundigheid in die kerkmusiek en het namens die Ned Hervor­m­de Kerk ’n leidende rol in die totstandko­-ming van die Liedboek van die kerk (2001) gespeel.

Sidebar