VAN ZIJL, WILLEM JACOBUS

VAN ZIJL, WILLEM JACOBUS (1932–) het aan die Universiteit van Stellenbosch (waar hy ook studenteraadsvoorsitter was) teologie* studeer, ’n meestersgraad in sosio­logie en later ’n doktorsgraad in kerkge­skiedenis* verwerf, en was NG Kerk*-predikant* van Robertson en Port Elizabeth-Sentraal voordat hy in 1966 besturende direkteur van die NG Kerk-uitgewers en in 1979 uitvoerende voorsitter van NG Kerk-uitgewers en sy filiale,  Lux Verbi en Waterkant-uitgewers, geword het. Hoogtepunte in sy uitgewers­tyd was Die Psalms en Gesange in 1978 en die Die Bybel met verklarende aanteke­ninge in 1989. Van Zijl het sorg gedra dat die tipografiese en algemene versorging van sy publikasies van hoogstaande gehalte was, en het skrywers en digters soos Elize Müller*, Berta Smit* en George Louw in sy personeel aangestel. Hy het selde boeke wat teologies en kerklik-polities van die hoofstroomdenke afgewyk het, gepubliseer. Hy het ’n boekklub aan die gang gekry en ’n aantal kleinhandelwinkels in verskillende dele van die land gevestig. In sy tyd was die kompetisie tussen die “suidelike” NG Kerk-uitgewers en die “noordelike” NG Kerk­boek­handel (Transvaal) soms minder ver­kwiklik. Van Zijl het die Christelike uitge­wery in Suid-Afrika op ’n nuwe vlak geplaas ten opsigte van gehalte en vakmanskap.

 

Sidebar