VAN ZYL, ALBERTUS HERMANUS (BERTUS)

VAN ZYL, ALBERTUS HERMANUS (BERTUS) (1925–2004) studeer vanaf 1943 teologie* en Semitiese tale* aan die Universiteit van Pretoria. Nadat hy in 1950 sy MA behaal het, word hy as lektor in Semitiese tale aangestel. Na ’n jaar se navorsing aan die Rijksuniversiteit van Leiden behaal hy in 1956 sy DD in Ou Testament* oor “Die Moabiete”, met JH Kritzinger as promotor.

Van 1961 tot 1963 is Van Zyl professor in Semitiese tale aan Unisa en aan die begin van 1966, ná ’n bediening van drie jaar as predikant van Kameeldrift, word hy professor in Ou Testament* aan die Universiteit van Pretoria waar hy sy promotor opvolg.

In vele opsigte was Van Zyl ’n akade­miese innoveerder. Hy inisieer die stigting van die Ou-Testamentiese Werksgemeen­skap in 1957; hy dien vanaf 1958 as sekretaris van die kommissie vir die hersiening en vertaling van die Afrikaanse Bybel* en dit loop uit op die 1983-Vertaling; vanaf 1968 behartig hy vir twaalf jaar die gewilde radioprogram “Wat sê die Bybel?” oor die radio. Tydens sy termyn as dekaan van die Teologiese Fakulteit (1974–1978) doen hy die aanvoorwerk vir die geïntegreerde opleiding van teologiese studente wat blootstelling aan die teologie van die eerstejaar af moontlik maak. In 1996 word Van Zyl deur die Universiteit van Pretoria met ’n eredoktorsgraad vereer en die FAK huldig sy werk as Bybelvertaler met ’n erepenning.

Van Zyl se teologiese publikasies sluit talle boeke in wat as handboeke vir inlei­ding tot die Ou Testament (Gods Woord in mensetaal, 1971), die ontwikkeling van die Ou Testament as kanoniese geskrif (Net een Boek – ’n Kanongeskiedenis van die Ou Testament, 1974) en die geskiedenis van die Bybel (Israel en sy bure, 1976) gebruik is. Hy lewer ook ’n besondere bydrae tot algemeen-godsdienstige publikasies deur vir twintig jaar (1981–2000) die bekende Bybelse dagboek, Uit die beek, te skryf, en as hoofredakteur te dien van die ge­sag­hebbende werk, Die Bybel met verklarende aantekeninge (1989).

Sidebar