VAN ZYL, HERMIAS CORNELIUS (HERMIE)

VAN ZYL, HERMIAS CORNELIUS (HERMIE) (1947–) het in 2003 die derde dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat geword. Hy gaan skool en studeer teologie* in Pretoria, en promoveer in 1987 met as proefskrif­onderwerp Matteus 18:15-20. ’n Diachro­niese en sinchroniese ondersoek met besondere verwysing na kerklike dissipline. Hy word in 1985 dosent in Nuwe Testa­ment* aan die Vrystaatse universiteit, en dien ’n tyd lank in die sekretariaat van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika en as redakteur van Neotesta­mentica. Van Zyl beskou die vak Nuwe Testament nie net as ’n historiese wetenskap nie, maar ook as ’n hermeneuties-teologiese onderneming. Dit beteken enersyds dat die historiese kontoere van die Nuwe Testament so goed moontlik nage­vors moet word (die historiese aspek), maar andersyds dat die Nuwe Testament as Woord van God op ’n verantwoordelike manier vir die eie tyd aan die woord moet kom (die hermeneuties-teologiese aspek). “Só bedryf ’n mens die vak binne die spanningsveld van vervreemding en toe-eie­ning”.

Sidebar