VATIKAAN / VATIKAANSTAD

VATIKAAN / VATIKAANSTAD. Chris­tene stel in die Vatikaanheuwel belang omdat die apostel Petrus* volgens oorle­wering in die jaar 64 in die begraafplaas op daardie heuwel begrawe is. Onmiddellik as ’n heilige plek beskou, is die eerste kerklike bouwerk by die graf in 90 nC opgerig. Veranderings is daarna aangebring totdat keiser Konstantyn* in 319 met die bou van die eerste Sint Petrus-basiliek begin het. Al het pous Symmachus ’n huis daarlangs gebou, het die pouse* nie daar gebly nie, maar langs die Lateraanse basiliek, tot die 14de eeu. Nadat pous Gregorius XI in 1377 uit Avignon na Rome teruggekeer het, het hy op die Vatikaanheuwel langs die basiliek gaan bly. Met verloop van tyd het sy opvolgers ’n hele aantal administratiewe en kulturele geboue bygevoeg.

Die Romeinse Ryk* het dikwels in kerklike sake ingemeng, soms in so ’n mate dat pous Martinus I selfs vermoor is. Om die kerk van hierdie bedreiging te bevry, het pous Gregorius II (715–731) die onafhanklikheid van die pousdom en die gebiede onder sy beheer in Italië verklaar.Hierdie gebied is uitgebrei deur ’n geskenk van die Frankiese koning Pepin in 756. In 1870 het die Italiaanse owerheid hierdie pouslike gebiede by die nuwe Italiaanse staat ingelyf, en die pouse het hulle tot die Vatikaan beperk. Deur die Lateraanse verdrag van 1929 het Italië die onafhanklikheid erken van die Vatikaanstad, dit is die Sint Petrus-basiliek, en die pouslike geboue en tuine rondom. Die pous het daardeur hoof van die wêreld se kleinste staat geword.

 

Sidebar