VATIKAANSE KONSILIES

VATIKAANSE KONSILIES. Twee konsilies dra die naam “Vatikaanse Konsilie”. Die Eerste Vatikaanse Konsilie (1869–1870; kortweg ook Vatikaan 1 genoem) word deur Katolieke* as die Twintigste Eku­me­niese Konsilie beskou. Pius IX het hierdie konsilie byeengeroep om die bedreigings en probleme wat die kerk in die moderne wêreld beleef het, die hoof te bied. Die grootste deel van die agenda het egter amper onaangeroer gebly.

Politieke verwikkelings – die oorlog wat tussen Frankryk en Pruise ontstaan het, die ontruiming van Franse troepe uit Rome en die Italiaanse besetting van die stad – het ’n einde gebring aan hierdie kort konsilie. Die verreikendste besluit wat die konsilie geneem het – die verklaring van die pouslike onfeilbaarheid, en die rol daarvan – was aanvanklik glad nie op die agenda nie.

Die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962–1965; kortweg Vatikaan II) is deur Johannes XXIII* byeengeroep. In ’n sekere sin was dit ’n nuwe poging om aan die oorspronklike doelwitte van die Eerste Vatikaanse Konsilie uitvoering te gee. Die benadering van hier­die konsilie was egter geheel en al anders. Die kerk wou eerder deur dialoog en die herformulering van kerkleer die moderne wêreld aanspreek.

Ná die dood van Johannes XXIII het Paulus VI die konsilie weer byeengeroep, en uiteindelik ná vier sittings is die konsilie op 8 Desember 1965 beëindig. Die dokumentasie van hierdie konsilie bestaan uit vier konstitusies (van groot belang en meer teologies van aard), nege dekrete (meer te doen met praktiese hervormings) en drie deklarasies (ietwat minder teologies en be­vat ook nie praktiese hervormings nie).

Dit sou moeilik wees om die invloed, oorwegend positief, van hierdie konsilie te oordryf. Vir die Katolieke Kerk* was die Tweede Vatikaanse Konsilie die begin van ’n nuwe denkwyse oor wat dit beteken om kerk in die moderne wêreld te wees.

 

Sidebar