VENTER, CASPER JAN HENDRIK (CASSIE)

VENTER, CASPER JAN HENDRIK (CASSIE) (1940–) promoveer in 1974 in praktiese teologie* met Die bediening van die versoening aan die bejaarde: ’n Pastorale studie in die lig van die Pastorale Briewe en voltooi in 1985 ’n tweede ThD in Nuwe Testament* oor Die Pauliniese para­nese in Romeine 12:1–15:13 – ’n eksegetiese studie. Van 1985 tot 2005 is hy verbonde aan die Teologiese Skool en Fakulteit Teologie van die PU vir CHO* (later Noord­wes-universiteit) as dosent in praktiese teologie. Sy spesialiseringsgebiede is homi­le­tiek*, pastorale versorging en kategetiek. In sy wetenskaplike bydraes kom onder andere die volgende na vore: die prakties-teologiese grond­slae van die prediking*, die proses van preekmaakkunde, kommunikatiewe aspekte in die prediking, die toerusting van die gemeente* en die aanwend van gawes, die spirituele ingesteldheid van die prediker, die brugbouproses van die Bybel*teks na die teks van die lewe, diakonia (die diens van die kerk) in sy vele gestaltes, die diens van versoening*, die verband tussen geestelike groei en emosionele intelligensie. Hy is die skrywer/redakteur van onder andere By die sterfbed (1976), God bou op deur sy Woord (1988) en Uit­kringende liefdesbetoon (1996).

Sidebar