VENTER, FRANCOIS ALWYN

VENTER, FRANCOIS ALWYN (1916–1997) het as Afrikaanse romansier en “volkskrywer” gewildheid verwerf. Sy tetra­logie oor die Groot Trek*, Geknelde land (1960), Offer­land (1963), Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968), is van sy belangrikste werk. Venter toon hier begrip vir die sage van die Groot Trek, en verbind ’n deeglike verwerking van die geskiedenis met ’n fiktiewe gegewe in ’n meevoerende en dikwels dramatiese opbou van ’n reeks gebeurte­nisse. Tog is sy sketsvertellings, soos Werf­joernaal (1965) en Die middag voel na warm as (1974), en veral sy relaas oor ouderdom en lyding, Die keer toe ek my naam vergeet het (1995 – wat met die Andrew Murrayprys* bekroon is), uit lite­rêre oogpunt meer ge­slaagd as Venter se groots opgesette ge­skied­kundige romans. Venter het twee Bybel­*romans geskryf: Man van Ciréne (1957; hersien in 1991) en Die koning se wingerd (1984). Man van Ciréne vertel die verhaal van Simon*7 Niger, wat Jesus* se kruis sou dra en uiteindelik, soos Hy, aan ’n kruis sou sterf. Hierdie roman, wat in etlike tale vertaal is, is boeiend geskryf en gee op ’n breë doek ’n beeld van die destydse lewe in die Romeinse Ryk*. Die koning se wingerd is ’n roman uit die tyd van koning Agab* en vertel van die doemprofesieë van Elia* en God se optrede teen halsstarriges. Ook hier gee Venter noukeurige aandag aan die Bybelse wêreld, maar aktualiseer dit en die destydse mense om ook vir ’n ander tyd iets te sê.

 

Sidebar