VERANTWOORDELIKHEID

VERANTWOORDELIKHEID kan te­rug­skouend (retrospektief) aan mense toegeskryf word vir wat hulle in die verlede gedoen het. Dit kan egter ook vooruit­skouend (prospektief) toegeken word as ’n bepaalde taak met die oog op die toekoms. In die verlede het die klem meer geval op die probleme wat met die toeskrywing van retrospektiewe verantwoordelikheid ge­paard gaan. Die sentrale vraag was: Wan­neer kan mense verantwoordelik gehou word vir wat hulle gedoen het? Die tradisionele antwoord was dat mense slegs vir die skadelike gevolge van hulle optrede verantwoordelik gehou kan word as die be­doeling om skade aan te rig, aanwesig was. Met die toenemende gebruik van tegnologie, het dit egter steeds moeiliker geword om die skadelike gevolge van bv nywerheidsongelukke terug te voer na die optrede en bedoeling van ’n bepaalde persoon of persone. Die klem het daarom verskuif na die prospektiewe verantwoordelikheid om toe te sien dat die risiko’s wat met die gebruik van tegnologie gepaard gaan, so veel as moontlik beperk word.

“Verantwoordelikheid” kan ook dui op ’n bepaalde instelling of deug. Wanneer mense deurgaans bereid is om hulle skuld te dra, of die bereidheid het om take wat aan hulle toegewys is met toewyding te verrig, sê ons dat hulle verantwoordelike mense is.

Vir verdere lees: J de Gruchy 1996. “The virtue of a responsible life” in: CW Burger, BA Müller en DJ Smit (red). Riglyne vir die prediking oor Christelike deugde. Kaap­stad: Lux Verbi; DE de Villiers 2002. “Who will bear moral responsibility?” in: Com­municatio 28(1).

Sidebar