VERASSING

VERASSING. Blykens argeologiese* ge­tuie­nis het ’n dubbele praktyk (lykverbran­ding naas begrafnisse*) reeds in antieke kulture bestaan, met wisselende voorrang in verskillende tye. Die opmerklike uitsonde­ring is die oud-Semitiese kultuurkring, Israel* ingesluit, waar lykverbranding nooit alge­mene praktyk was nie. Die Bybel* vermeld dit slegs as strafmaatreël (Lev 20:14; Jos 7:25) of ná verminking (1 Sam 31:8-13), nogtans sonder ’n eksplisiete verbod daarop. Sedert die 19de eeu begin die skaal toenemend swaai ten gunste van verassing in krematoria, hoofsaaklik op grond van medies-higiëniese en praktiese oorwegings (oorvol begraafplase, voordeliger grondbenutting in makrostede). In die Christelike tradisie berus die voorkeur vir teraardebestelling veral op eerbied vir die liggaam, versterk deur die belofte van ’n liggaamlike op­standing, gesimboliseer deur die graankorrel wat in die grond sterf, wagtend op nuwe lewe. Met waardering vir hierdie motiewe moet nogtans erken word dat verassing nie as sodanig daarmee in teenspraak is nie. In die vrymag van sy liefde is God in die gee van ’n verheerlikte opstandingsliggaam nie aan die vorm van ons stoflike oorblyfsels gebonde nie. Die beginselvraag is of die keuse in dié verband vrywillig en in verantwoording voor God geskied. (Kyk ook: Begrafnis.)

Vir verdere lees: DJ Davies 1996. “Dispo­sal” in PB Clarke en A Linzey, Dictionary of Ethics, Theology and Society. Londen: Routledge; JA Heyns 1982. Teologiese etiek, Deel 1. Pretoria: NGKB.

Sidebar