VERBOND, OU
VERBOND, OU. ’n Verbond (berit) is ’n kontrak, of ooreenkoms, en geskied tussen mense onderling (Gen 21:32) of tussen stamme en volke (1 Sam 11:1; Jos 9:6, 15). Met verbondsluiting is ’n eed* deur beide partye afgelê en Jahwe* geroep as getuie van die ooreenkoms. ’n Offer*dier is in twee dele gesny waarna die betrokke partye tussen die twee dele deurbeweeg het. Dit was ’n simboliese handeling met regsimplikasies wat die dood sou verdien as ’n party hierdie verbond sou verbreek. Die sentrale idee is dat verbondsluiting nie sonder dood en bloedvergieting kon plaasvind nie (Heb 9:22).
Ook God het sy verhouding met sy volk in terme van ’n verbond uitgedruk, soos met Noag* (Gen 9:9-17), Abraham* (Gen 15:18-21), Dawid* (2 Sam 7), en die priesterlike verbond (Num 25:12-13; Deut 33:9; Jer 33:21). Die verbond van Sinai*2 (Horeb), waar Moses* opgetree het as middelaar (Eks 19:5; 24:5-8; 34:10, 27-28; Gal 3:19), is daarna telkens in die geskiedenis van Israel* hernu (Deut 29:1; 2 Kron 23:3; 34:31). Ook God bevestig sy verbond met ’n eed (Ps 89:4-5; 105:8-11; Luk 1:70-75; Heb 6:13-17). Die Ou Testamentiese* verbond is ’n “ou” verbond in die lig van die “nuwe” verbond (Jer 31; Mark 1:14; Heb 8:6; 9:15; 12:24). (Kyk ook: Nuwe verbond*, Ou verbond*, Sweer*.)