VERBONDSTEOLOGIE

VERBONDSTEOLOGIE. “Die leer van die verbond* is nêrens so deeglik en omvattend uitgewerk as in die gereformeerde* teologie* nie” (WD Jonker*). Hoewel die verbondstema reeds by Calvyn* en Bullin­ger* aanwesig is, was dit veral J Coccejus (1603–1669) wat as verbondsteoloog be­kend­heid verwerf het. In die 20ste eeu is die tema veral ontgin deur W Eichrodt*, K Barth*, H Berkhof* en (in Suid-Afrika) A König*.

Inhoudelik word onder verbond verstaan dat die Here* God uit vrye genade* vir Hom ’n volk uitverkies* met wie Hy in gemeenskap lewe en van wie Hy verwag om dieselfde teenoor Hom te doen. Hy sal vir sy volk ’n God wees, maar hulle moet ook vir Hom ’n volk wees – hierdie verbondsformule is waarskynlik die uitdruk­king wat die meeste in die hele Skrif* voor­kom. Die verbond wys op God se genadige omgang met die mens en wêreld – met die mens as bondgenoot en nie as konkurrent nie. God beloof groot dinge, soos verlos­sing, versoening en vernuwing, maar Hy vra ook groot dinge, soos geloof en gehoorsaamheid. Waar ongeloof en ongehoorsaamheid intree, volg sy oordeel. Alles is hier belangrik: wat God beloof, wat Hy gee en wat Hy eis.

Beide “verbond” en “koninkryk”* is sentrale temas in die Bybel*. Hulle verhouding tot mekaar moet egter nie as konkurrensie nie maar as kongruensie gesien word. Ter­wyl dit in die verbond meer gaan oor “ge­meenskap” (met God), word in die konin­k­ryk meer op sy “heerskappy” (oor alles) gefokus. Die verbond is die kader waar­binne die versoeningswerk van Christus* voltrek word; die koninkryk gaan oor God se heilryke handelinge met die wêreld en die oorwinning van Christus oor die magte van sonde* en dood* en demone*. Die verbond is die inwendige gestalte van die koninkryk; die koninkryk is die uitwendige gestalte van die verbond.

Vir verdere lees: C Graafland 1992/1994. Van Calvyn tot Comrie: Oorsprong en ontwikkeling van de leer van het verbond in het Gereformeerd Protestantisme 1-3. ’s-Gravenhage: Boekencentrum; WD Jonker 1988. Uit vrye guns alleen: Oor uitverkie­sing en verbond. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar