VERDRAAGSAAMHEID

VERDRAAGSAAMHEID. In die Bybel* sluit verdraagsaamheid nou aan by die gesindhede van geduld*, lydsaamheid en lankmoedigheid*. Dit dui in eerste instansie op die verdraagsaamheid wat God teenoor sondige en weerstrewige mense openbaar. Reeds tydens God se ontmoeting met Moses* op die berg Sinai* openbaar Hy Hom as “die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou” (Eks 34:6). Hoewel Hy as die almagtige* God met reg sy toorn oor die ontroue bondsvolk Israel* kon laat losbrand, weerhou Hy telkemale weer sy toorn en tree sy volk met genade* tegemoet. Ook in die Nuwe Testament* word God se verdraagsaamheid beklemtoon. In Mat 18:23-35 word in die gelykenis* van die vergewensgesinde koning en die hardvogtige amptenaar bv die groot geduld wat God teenoor die sondaar* openbaar, gekontrasteer met die ongeduld en kleinlikheid wat mense soms teenoor medemense kan openbaar. God se oneindige geduld teenoor sondaars blyk daaruit dat Hy nie maar net sy oordeel oor hulle uitstel nie, maar hulle onbetaalbare groot sonde*skuld volledig afskryf. In beide die Ou* en Nuwe Testament word God se verdraagsaamheid ook as voorbeeld voorgehou wat nagevolg moet word: die Israeliete moet dieselfde gesindheid teenoor volksgenote openbaar, terwyl die oordeel wat die hardvogtige amptenaar in die gelykenis in Mat 18 uiteindelik te beurt val, die erns onderstreep van die verpligting wat op die begenadigde sondaar rus om in sy eie optrede teenoor medemense God se vergewensgesindheid te weerspieël. Soos ander gedeeltes in die Nuwe Testament dui hierdie gelykenis aan dat daar aan God se verdraagsaamheid ’n einde sal kom wanneer sy oordeel in toorn sal ontbrand.

In die geskiedenis van die Westerse wêreld het die begrip verdraagsaamheid ’n verskuiwing ondergaan. Sedert die Christelike* godsdiens die staatsgodsdiens in die Heilige Romeinse Ryk geword het, het die vraag ontstaan in hoeverre godsdienstige groeperinge wat afwyk van die leerstellings van die staatskerk, toegelaat moet word om hulle afwykende sienings te verkondig. Met ander woorde, moet sulke groeperinge deur kerk* en staat* verbied word om hulle leerstellinge te verkondig en selfs vervolg word as hulle daarmee voortgaan, of behoort beide die kerk en die staat eerder verdraagsaam teenoor sulke groeperinge op te tree en aan hulle die vryheid te gun om hulle geloofsoortuiging uit te leef? In die Middeleeue het die kwessie van godsdienstige verdraagsaamheid veral betrekking gehad op Joodse* en Moesliem*-groeperinge in die Christelike Europa. Sedert die Hervorming* in die 16de eeu het dit groter dringendheid verkry as gevolg van die politieke verdeling van Europa in dominant (Rooms-) Katolieke* en dominant Protestantse* state. Die Edik van Nantes* wat op 13 April 1598 deur koning Hendrik IV van Frankryk afgekondig is en aan Protestante die reg tot godsdiensvryheid* gewaarborg het, kan as ’n belangrike bakermat van godsdienstige verdraagsaamheid beskou word. Die herroeping van die Edik in 1685 en die daaropvolgende vervolging van Protestante in Frankryk, is daarenteen ’n duidelike voorbeeld van godsdienstige onverdraagsaamheid. Die groter aanvaarding van godsdienstige verdraagsaamheid het mettertyd neerslag gevind in die erkenning van godsdiensvryheid as ’n mensereg* in die grondwette van baie state. ’n Moeilike kwessie wat veral sedert die opkoms van radikale en gewelddadige godsdienstige en politieke groeperinge (soos die sg Islamitiese Staat – IS), wat self uiters onverdraagsaam teenoor andersdenkendes is, na vore getree het, is: In hoeverre moet die onverdraagsame verdra word?

Vir verdere lees: DE de Villiers 1996. Om geduldig te wees, in CW Burger, BA Müller en DJ Smit (reds): Riglyne vir prediking oor Christelike deugde. Kaapstad: Lux Verbi.; M Walzer 1997. On toleration. New Haven en Londen: Yale University Press.

 

Sidebar