VERENIGENDE GEREFORMEERDE KERK IN SUIDER-AFRIKA (VGK) (VGKSA)

VERENIGENDE GEREFORMEERDE KERK IN SUIDER-AFRIKA (VGK) (VGKSA) het in 1994 uit die vereniging van die NG Kerk in Afrika* en die NG Sen­dingkerk tot stand gekom. In die vroeë jare aan die Kaap het die NG Kerk* geen eie sending*aksie gehad nie. Die Morawiese sendeling* Georg Schmidt* het wel in 1737 Kaap toe gekom om onder die Khoekhoen* van die Overberg te werk. Onder druk van die Kaapse Kerk*, moes hy egter ná sewe jaar terug Duitsland toe. In 1824 het die NG Kerk, by sy heel eerste sinode*, besluit om self met sendingwerk te begin. In 1881 het afgevaardigdes van vyf sendinggemeentes op Wellington byeengekom vir die eerste vergadering van die NG Sendingkerk. Na­mate die sendingwerk gegroei en talle swart en bruin lidmate aangemeld het, het verskillende kerke vir swartes en bruines (“kleurlinge”) in die land ontstaan. In die Vrystaat het die Sendingkerk in 1910 tot stand gekom, en in die Kaapprovinsie is ’n NG Bantoekerk in 1951 gevorm. So te sê al die “kleurling”-gemeentes het uiteindelik by die NG Sendingkerk aangesluit, en die swart gemeentes by die NG Kerk in Afrika.

In 1974 het die NG Kerk in Afrika ten gunste van kerkeenheid van die NG Kerk­familie* besluit, en die NG Sendingkerk in 1978. Dié ideaal is 16 jaar later in ’n groot mate tussen hierdie twee kerke vervul met die totstandkoming van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA). In die tussentyd is die Belydenis van Belhar*, met sy sterk klem op eenheid*, versoening* en geregtigheid*, in 1986 in die geledere van die NG Sendingkerk aanvaar. Tot vandag toe is die Belydenis van Belhar grootliks die kragbron waaruit die VGKSA lewe. Die VGKSA het meer as 500 000 belydende lidmate en 683 gemeentes. Die kerk se naam (“Ver­enigende”) en sy logo (’n onvoltooide sirkel) weerspieël die kerk se klem op eenheid, en sy hoop vir ’n groter eenheid binne die familie van die kerk van Christus*.

Die VGKSA is verdeel in sewe gebiedsi­nodes, elkeen met sy eie bestuur of moderamen. Alle gemeentes is by die gebiedsino­des verteenwoordig. Gemeentes is in ringe* gegroepeer. Op die algemene sinodevlak, waar beleid gemaak word, word gemeentes slegs deur die ringe verteenwoordig. Afge­sien van die Belydenis van Belhar, vorm die Heidelbergse Kategismus*, die Dordtse Leerreëls* en die Nederlandse Geloofsbely­denis*, naas die ekumeniese* belydenisskrif­te (die Apostoliese Geloofsbelydenis*, die Geloofsbelydenis van Nisea* en die Belyde­nis van Atanasius*) die belydenisgrondslag van die VGKSA.

.

 

Sidebar