VERENIGING VIR CHRISTELIKE HOËR ONDERWYS (VCHO)

VERENIGING VIR CHRISTELIKE HOËR ONDERWYS (VCHO). Op 10 November 1948 het elf predikante van die NG Kerk* in die konsistorie van die kerk op Theunissen byeengekom. Die hele opset van hoër onderwys in Suid-Afrika is indringend bespreek en ’n aksiekomitee is benoem en studieopdragte uitgedeel. Op 22 Maart 1949 is ’n tweede vergadering in Winburg gehou waar besluit is om ’n vereniging vir hoër onderwys op Chris­telike grondslag te stig. Op 21 November van dieselfde jaar is die statute van die voorgenome vereniging gefinaliseer en is besluit om ’n eerste kongres te hou – wat op 7 Februarie 1950 op Brandfort plaasgevind het. By hierdie geleentheid is die volgende bestuur gekies: Ds JF Mentz (voorsitter), prof FJM Potgieter* (ondervoorsitter), ds CC Colijn (sekretaris), dr AMH Koornhof (penningmeester) asook prof DF Malherbe*, ds PW de Lange en mnr DH Botha.

Deur die jare was dit ’n ideaal van die VCHO om finansieel by te dra tot enige uni­versiteit in die land wat die sg gewetens­klousule by wyse van privaat wetgewing sou skrap of wysig. (Gewetensklousule = Artikel of klousule van ’n wet waardeur vrystelling van die bepalings van die wet verleen word aan iemand wat gewetensbesware daarteen het. – HAT, 2015). Sukses kon nie behaal word nie.

 

Sidebar