VERERING VAN VERMAAKLIK­HEID­STERRE EN SPORTSTERRE

VERERING VAN VERMAAKLIK­HEID­STERRE EN SPORTSTERRE. Dat ’n oordrewe verering van vermaaklikheid- en sportsterre ongewens is, is iets waaroor daar in die Christelike etiek* eenstemmigheid bestaan. Dwarsdeur die Skrif* word daar immers teen afgodery* ge­waarsku. Daar bestaan in Christelike kringe wel verskillende beklemtonings.

Die “hoofstroom” van Christelike denke staan positief teenoor vermaaklikheid as genotvolle deelname aan die skepping*. Bin­ne hierdie tradisie word positiewe rol­mo­delle vir die Christelike gemeenskap uit die vermaaklikheidswêreld verwelkom. Daar moet egter gewaak word teen ’n idealisering van hierdie rolmodelle as indiwidue verhewe bo die kwaad. Om die eie geloofsidentiteit volledig te baseer op die voorbeeld van een bepaalde geloofsheld, wat dan tot ’n val kom (dink bv aan Hansie Cronjé*), kan gevare inhou vir ’n mens se persoonlike geloofslewe.

Sekere Christelike tradisies staan egter negatief teenoor enige verering van seku­lêre sportsterre en vermaaklikheidsterre en enige waardering van “wêreldse” vermaaklikheid. Hier word ’n strenger tweedeling gehandhaaf en beteken behae in vermaaklikheid ook verraad aan die geestelike. Die gevaar van ’n oordrewe verering van alternatiewe “geestelike” vermaaklikheidshelde (tele-evangeliste, skrywers, gospelsangers ens) is hier egter wesenlik.

’n Tipiese eietydse en verontrustende fenomeen is die opkoms van die anti-ikoon, ’n konglomerasie van tradisioneel negatiewe kwaliteite wat tot sterstatus verhef word, soos bv die figure “Beavis and Butthead” of die eiewyse, heldhaftige, “eerbare” misdadiger met die slagspreuk: “It’s good to be bad.”

 

Sidebar