VERGEWING

VERGEWING. In die tradisionele gere­for­meerde* verlossingsleer word vergewing nie as ’n aparte aspek van die heilsorde* – soos wedergeboorte*, geloof* en regver­di­ging* – behandel nie. ’n Mens kan wel sê dat die vergewing van sonde* ’n vrug van die regverdiging is.

Vergewing van sondes geskied nie op grond van enige verdienste van ons kant nie. Wanneer Jesus* ons leer om te bid: “Vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree,” is die tweede deel, ná die “soos”, nie as ’n voorwaarde vir ons vergewing deur God bedoel nie, maar as die weg waarlangs dit geskied. Die enigste grond vir ons vergewing is die volkome voldoening van Christus* (Heidel­bergse Kategismus*, Vraag 56). Dit beteken dat Hy plaasvervangend vir die sondes van die ganse mensdom deur sy offer* aan die kruis* voldoende betaal het. Maar die ge­nade* is dat, soos die Here* ons om Christus wil vergewe, so kan en moet ons mekaar ook vergewe – tot sewentig maal sewe keer (Matt 18:21-22).

Dat ons glo aan die vergewing van sondes, beteken nie dat ons die perfeksio­nis­me*, die opvatting dat ons in hierdie lewe reeds die sonde volmaak kan oorwin, ondersteun nie. Inteendeel, tot die dag van ons dood toe bly ons sondaars wat teen die sonde moet stry en om vergewing daarvan moet bid.

Sidebar