VERHAAL

VERHAAL. Dit is een van die literatuursoorte/genres wat in die Bybel* aangetref word. Die kenmerkende elemente van verhale is (’n) verteller(s) wat vertel wat gebeur het, karakters wat betrokke is by die handeling wat plaasvind, gebeure wat op ’n bepaalde manier gerangskik word om ’n oorhoofse verhaalplan (“plot” of “intrige”) te vorm en sekere tydsaspekte. “Narratolo­gie” is die wetenskap wat aandag gee aan die wetenskaplike ontleding van verhale. Insigte vanuit die algemene narratologie is reeds met groot vrug toegepas op verhale in die Bybel. Narratologiese analises van verhale in die Bybel fokus op die manier waarop die tipiese verhaalelemente deur ’n verteller aangewend word, asook die ma­nier waarop al die elemente saamwerk om ’n bepaalde “vertellersperspektief” aan die bedoelde leser te kommunikeer.

Groot dele van die Ou Testament* en Nuwe Testament* bestaan uit verhalende ge­deeltes. In die Ou Testament kan die groot­ste gedeeltes van die boeke vanaf Genesis* tot Ester* as verhale geklassifiseer word. Soms bevat die profetiese* boeke in die Ou Testament ook verhalende gedeeltes soos in die geval van die boek Job* of die verhale waarin profete* vertel hoe hulle deur die Here* geroep is (bv Jes 6). In baie gevalle word kleiner indiwiduele verhale in die Ou Testament saamgebind tot groter siklusse, bv die Josef*-verhale (Gen 37–50).

In die geval van die Nuwe Testament word die vier Evangelies* en die boek Handelinge* as verhalende literatuur ge­klas­si­fiseer. In Openbaring* kry ’n mens ’n mengsel van verhalende en apokaliptiese literatuur (Kyk by:  Apokaliptiek). Die vier Evangelies* en Handelinge* bestaan elkeen uit kleiner indiwiduele verhaaltjies wat saam­gebind is deur ’n oorhoofse verhaal­plan. Byvoorbeeld: In die geval van Hande­linge word die indiwiduele verhale saam­gebind deur die oorhoofse verhaalplan wat daarop gemik is om te wys hoe die evangelie stelselmatig vanaf Jerusalem* versprei totdat dit Rome*, die hoofstad van die destydse Romeinse Ryk*, bereik.

 

Sidebar