VERHEERLIKING

VERHEERLIKING is ’n toestand van glorie. Om iemand te verheerlik, is om te loof, of in glorie te verhef. Onder “verheerli­king” moet in die eerste plek gedink word aan die verheerliking van Christus. Ná sy verne­dering (menswording*, kruisiging*, sterwe en begrafnis), het die staat van verhoging gevolg (opstanding*, hemelvaart*, troonsbestyging en sit aan die regterhand van God). Die verheerliking op die berg (Mark 9:2-8) was ’n voorafskaduwing van sy verheerliking by God nadat Hy sy verlos­singswerk op aarde voltooi het. Sy gebed in Joh 17:5 is verhoor: “En nou, Vader, verheerlik My by U, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het” (2014-Direkte Vertaling).

Die verheerliking van die gelowiges staan in die nouste verband met die verheerliking van Christus. Christus sê self: “En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is” (Joh 17:22, 2014-Direkte Vertaling). Vir elkeen wat in Hom glo, loop die lewe uit op die ewige heerlikheid (Rom 8:30). In beginsel besit die gelowige dit reeds, maar in volkomenheid is dit ná hierdie lewe ons deel. Ons lees ook van die heerlikheid van die nuwe Jerusalem (Op 21). Ten diepste is die verheerliking wat eendag sal aanbreek, onbeskryflik en onvoorstelbaar.

 

Sidebar