VERHOEF, PIETER ADRIAAN

VERHOEF, PIETER ADRIAAN (1914–2013) het ná sy studie aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO* en die Stellenbosse Kweekskool, sy doktorsgraad in die Ou Testament* aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam verwerf. Hy was nog in sy dertigs toe hy professor in Ou Testament op Stellenbosch geword het, ’n pos wat hy 29 jaar lank beklee het. Hy het ook by geleent­heid as dekaan van die teologiese fakulteit opgetree. Verhoef, ’n behoudende – dog nie verstokte nie – en besonder minsame teo­loog, was medewerker aan verskeie nasio­nale en internasionale kommentarereekse, met diepgaande kennis van, onder meer, Jesaja* en die Maleagi-boek*. Hy was eind­redaksielid van die 1983-Vertaling van die Afrikaanse Bybel* en het jare lank die “Sê my, Dominee”-rubriek in Kerkbode behartig. Hy was kommissielid van Ras, volk en nasie in die lig van die Skrif (1974) én Kerk en samelewing (1986) van die NG Kerk* oor, onder meer, die kwessie van apart­heid*. Tussen dié twee beleidsdokumente sien Verhoef sowel kontinuïteit as diskontinuïteit. As gerespekteerde brugbouer was Verhoef voorsitter van die eerste gesamentlike konferensie wat die NG Kerkfamilie* in 1992 oor kerkvereniging/kerkhereniging gehou het, maar die knoop kon nie deurgehak word nie. Verhoef het eredoktorsgrade van die PU vir CHO* en van die Universiteit van die Vrystaat ontvang.

 

Sidebar