VERKRAGTING

VERKRAGTING kan beskryf word as die geforseerde penetrasie van die penis of enige ander voorwerp in die vagina, mond of anus van die slagoffer. Verkragting is dus geslagsgemeenskap sonder toestemming. Dit is meestal vroue en dogters wat verkrag word, maar mans en seuns is ook soms verkragtingslagoffers. Die aangemelde aantal verkragtings op vroue en kinders in Suid-Afrika is meer as 50 000 per jaar (2014). Aangesien daar bereken word dat slegs ongeveer 5% van alle gevalle aangemeld word, is die werklike voorkoms aansienlik hoër. Sommige groepe, soos People Against Women Abuse, bereken dat daar elke 24 sekondes ’n vrou in Suid-Afrika verkrag word.

Verkragting het ernstige en langdurende fisieke en emosionele gevolge. Die persoonlike gevolge van verkragting word dikwels verhoog deurdat die familie en gesagsinstansies die slagoffer nie glo nie, nie omgee nie of die persoon van kwaadwilligheid beskuldig. Dit bring mee dat sentrums en krisisklinieke vir verkragtingslagoffers uiters noodsaaklik is. Verkragtings word selde aangemeld, omdat die vroue en kinders verneder en emosioneel gebreek is en weerwraak vrees, aangesien die ver­krag­ter gewoonlik ’n familielid of gesinsvriend is. Die saak word verder gekompliseer deurdat baie min van diegene wat gearresteer word, uiteindelik skuldig bevind word.

Verkragting is meer dikwels deel van ’n magspel en geweld as wat dit oor seks handel. Baie van die verkragters het ’n lae selfbeeld en selfbeheersing. Hulle glo dat vroue en kinders aan hulle “behoort” en gedwing kan word om seks te beoefen. Hulle probeer om hulle selfbeeld ’n hupstoot te gee deur geweld te bedryf. Pornografie* verhoog hierdie beeld en dra by tot gewelddadige seksuele optrede.

Teologies is verkragting sonde*. Sielkun­dige en sosiologiese faktore is wel van belang, maar die verkragter bly moreel voor God en die slagoffer(s) vir sy/haar dade aanspreeklik. Belangrike Bybel*gedeel­tes in hierdie verband is Gen 34, Rig 19:11-30 en 2 Sam 13:1-22; kyk ook na Hos 9:9.

 

Sidebar