VERKUYL, JOHANNES

VERKUYL, JOHANNES (1908–2001) was ’n buitengewoon invloedryke Nederlandse gereformeerde* missioloog (sendingkundige). Ná ’n paar jaar se bediening in Nederland (1932–1939), is hy na Indonesië waar hy vir 24 jaar in verskillende hoedanighede gewerk het, onder andere as sendeling* in midde-Java en dosent in Djakarta. Tydens die Tweede Wêreldoorlog* is Verkuyl en sy gesin drie en ’n half jaar lank in Japannese gevangeniskampe aangehou. Ná die oorlog het hy sy ondersteuning gegee aan die Indonesiese stryd om onafhanklikheid van Nederland. In 1963 keer hy terug na Nederland as algemene sekretaris van die Nederlandse Sending­raad. In 1968 word hy professor in missiologie aan die Vrije Universiteit* in Amster­dam, waar hy gedoseer het tot sy aftrede in 1978.

Verkuyl was aktief betrokke by die eku­meniese* beweging en ’n deelnemer in die stryd teen apartheid* in Suid-Afrika. In ’n invloedryke boek, Breek de muren af! Om gerechtigheid in de rassenverhoudingen (1969), het hy die Bybelse fundering van rassisme* ontmasker en ’n pleidooi gelewer vir die stryd om sosiale geregtigheid. Verkuyl het sy holistiese* sendingbegrip sistematies uitgewerk in Inleiding in de nieuwere Zendingswetenschap (1975), wat ook sy bekendste werk is.

Sidebar