VERLIGTING

VERLIGTING (kyk ook by:AUFKLÄRUNG) is die uittrede van die Europese mens uit onmondigheid en die stel van onbegrensde vertroue in die menslike rede en voorspoed (aldus die Duitse filosoof Immanuel Kant* in sy kort artikel van 1784, “Was ist Aufklä­rung?”). Dit is die uitstaande kenmerk van hierdie ingrypende kultuurstroming in Wes-Europese geskiedenis sedert 1700. Die Europese kontinent sou daarna nooit weer dieselfde wees nie, aangesien dit groot samelewings- en politieke gevolge meegebring het. Hierdie kultuurstroming het van Engeland (Bacon*, Locke*) af na Frankryk (Voltaire, Montesquieu, Diderot) en uiteindelik na Duitsland (Wolff, Baumgarten, Semler, Reimarus, Kant) oorgewaai. Dit het bekend geword as die tydperk van “Verlig­ting”, in Duits as “Aufklärung” (met die betekenis van “duidelik maak; onderrig oor samehange; vooroordele bylê; waarheid aan die lig bring”) en in Engels as “Enligh­ten­ment”. Die moed wat vroeër ontbreek het om die rede tot grondslag te maak van lewens- en wêreldbeskouings, spruit voorbereidend uit die voorafgaande tydperke van die Renaissance* en Humanisme*. Ongekende optimisme het die oortuiging gedra dat die rede hoe langer hoe meer, losgemaak van transendente (Kyk by: Transendensie van God) beïnvloeding en gesagsinmenging, die lewe sou beheer totdat ’n “natuurlike” wêreldorde uiteindelik bereik sou word en die mensdom vry en gelukkig sou lewe op aarde. Daarom sou as leuse van hierdie tydperk kon geld: “Waag om jou verstand te gebruik.” Op alle lewens­terreine, maar veral in die natuurwetenskappe en opvoedkunde, het hierdie mon­dig­wording van die rede neerslag gevind. Op religieuse terrein moes dit wat as misterieus en irrasioneel beskou is, vermy word. As bron van waarheid het die rede gegeld, nie openbaring* nie. Die Christelike aanspraak van absoluutheid is bevraag­teken. Voortaan sou die klem in ’n toenemende mate val op die geskiedenis as ’n natuurlike historiese proses en in ’n veel mindere mate op die geskiedenis as sg heilsgeskiedenis. Die mens, as rasionele maker van hierdie geskiedenis, was innerlik goed. Tussen die mens en die universum het daar ’n innerlike harmonie bestaan. Ook die begronding van die sedelike norm is nie meer gesoek in God se wet* nie, maar in die rede en gewete*. Teenoor hierdie “verligtingsdenke” is krities standpunt ingeneem deur denkers soos Horkheimer, Adorno en Foucault. Hulle wys op die verontagsaming van belangrike waardes, bv van tradisie, gemeenskap, verbondenhede en grondverbintenis­se (“commitments”), en beskuldig hierdie kultuurstroming van naïewe optimisme, ahistoriese en etnosentriese denke, asook om die kweekhuis van sinisme te wees.

 

Sidebar