VERSEËL

VERSEËL. Diere en slawe* is in Bybelse* tye met hulle eienaar se seël gemerk. Doku­mente en houers is verseël sodat bewys kon word dat niemand met die inhoud ge­peu­ter het nie. Iemand se seël is in warm was afgedruk wat dan op die tou rondom die dokument droog geraak het. Wanneer die afdruk van ’n seëlring op briewe* voorge­kom het, het dit identiteit, eienaarskap, egtheid en gesag* aangedui (1 Kon 21:8; Ester 3:10-12; 8:8-10). Verbreking van hierdie seël het neergekom op die minagting van die gesag van die persoon wat die dokument gestuur het.

Egtheid, eienaarskap, identiteit*, gesag en bewaring lê agter die woorde wat bena­druk dat gelowiges* deur die Heilige Gees* as God se eiendom beseël is (2 Kor 1:22; Ef 1:13; 4:30). Ontvangs van die Gees was ’n teken dat gelowiges op ’n spesiale manier aan God behoort (deur Hom beseël is) en deur Hom beskerm word, totdat hulle dit wat God belowe het, volledig in besit sal neem (Ef 1:14; 4:30). Die beseëling deur die Heilige Gees het ook implikasies vir die optrede van diegene wat beseël is. ’n Liefde­lose lewenstyl bedroef die Gees wat ons as God se eiendom beseël het (Ef 4:25-32).

Op dieselfde manier word van die sakra­mente* as “tekens en seëls” gepraat wat die belofte van die evangelie verseël (Heidel­bergse Kategismus*, Antwoord 66).

Sidebar