VERSET / STAKINGS

VERSET / STAKINGS. Verset, soos dit hier bedoel word, is ’n term met sterk politieke ondertone omdat dit histories verwys na pogings deur indiwidue, groepe of same­­stellings van groepe om ondersteu­ning binne en buite ’n land se grense te werf om weerstand te bied teen wat beleef word as diskriminerende of totalitêre rege­ringsbeleid, of teen vreemde besettings van buite. Tradisioneel word daar tussen nie-gewelddadige en gewelddadige verset on­derskei. Weerstand teen ’n gekonstitueerde gesag of regering kan dus wissel van nie-gewelddadige verset en burgerlike ongehoorsaamheid, tot industriële sabotasie, guerilla-oorlogvoering en selfs konvensio­nele oorlog, indien ’n versetbeweging sterk genoeg is. Die Satyagraha-beweging van Gandhi* in die 1930’s in Indië teen die eko­no­miese uitbuiting van armes en onderdrukkende belastings, is ’n voorbeeld van burgerlike ongehoorsaamheid en nie-ge­welddadige verset, terwyl die weerstand teen die apartheidregering* in Suid-Afrika en die Palestynse verset in Israel* die afgelope dekades, voorbeelde is van nie-gewelddadige verset wat in gewelddadige verset oorgegaan het. Wanneer versetbewegings geweld gebruik, word hulle deur diegene wat die beweging ondersteun, as vryheids­vegters beskou, terwyl die regering wat die dade van gewelddadige verset moet han­teer en probeer onderdruk, dit gewoonlik as terrorisme veroordeel, selfs al dit slegs teen die militêre of veiligheidsmagte gerig.

Staking kan ook as ’n vorm van verset gesien word om beter vergoeding of werks­omstandighede vir werkers te beding (of af te dwing), en die meeste demokratiese lande (Kyk by: Demokrasie) gee ruimte vir “wettige stakings” – met gestruktureerde bedingingsmeganis­mes – terwyl onwettige stakings ook voorkom, maar dan gewoonlik deur die owerheid met (beperkte) geweld teëgegaan word. Die Marikana-mynstaking wat in 2012 tot ’n gewelddadige botsing tussen stakers en polisie gelei het en waartydens meer as 30 gewapende stakers doodgeskiet is, is egter ’n tragiese voorbeeld van hoe onwettige stakings buite beheer kan eskaleer.

Vanuit die Christelike etiek* is daar min beswaar teen nie-gewelddadige verset en ordelike, wettige stakings wat as laaste middel aangewend word om uitbuiting, mags­misbruik en ongeregtigheid* teen te staan. Dit is ’n sosiale bedingingsmeganisme om magsmisbruik te voorkom. Sover moontlik, behoort arbeidsgeskille egter deur middel van mediasie en arbitrasie besleg te word. Stakings wat endemies word – soos in Suid-Afrika wat sedert 1994 amper elke jaar ’n soort “seisoen van stakings” beleef – het ’n baie negatiewe uitwerking op produktiwiteit en veroorsaak groot ongerief vir die breë publiek. Stakings ten opsigte van noodsaaklike dienste, soos bv mediese dienste en polisiëring, is eties afkeurenswaardig. Dit beteken dat die onus by die werkgewers berus om werklike arbeids- en loonpro­bleme van mense wat in hierdie dienste werksaam is, uiters simpatiek en tegemoetkomend te hanteer.

Vir verdere lees: JH van Wyk 1998. Etiek in eenvoud. Noordbrug: Potchefstroomse Teologiese Publikasies.

Sidebar