VERSFELD, MARTHINUS (MARTIN)

VERSFELD, MARTHINUS (MARTIN) (1909–1995) was ’n Suid-Afrikaanse filosoof van die 20ste eeu. Hy was vir die duur van sy loopbaan dosent in filosofie aan die Universiteit van Kaapstad. Hoewel hy Afri­kaanssprekend was, het hy eienskappe gehad wat nie normaalweg met Afrikaners* van sy tyd geassosieer is nie. Hy was bv Katoliek*, maar het ook oor ’n diepgaande kennis van die Hindoeïsme* en die Boeddhisme* beskik. Hy was ’n deskun­dige op die gebied van die Middeleeuse filosofie en het heelwat daaroor gepubliseer, bv Rondom die Middel­eeue. Versfeld was ’n groot kenner van die werk van die kerkvader Augustinus* (354–430 nC). ’n Boek wat nie lank voor sy dood verskyn het nie, is St Augustine’s Confessions and City of God. Versfeld lê in hierdie boek ’n interessante verband tussen Augustinus se ervarings gedurende sy leef­tyd, en die ervarings van (Suid-) Afrika­ners in die vroeë 1990’s. Die groot wêreldgebeur­tenis in Augustinus se tyd was die val van Rome* in die 4de eeu as gevolg van die invalle van Alarik se Gote. Rome was tot in daardie stadium ’n simbool van ewigheid en onverganklikheid, en Augustinus se beroemde werk van 22 “boeke”, De civitate Dei (“Die stad/staat van God”, deur hom geskryf van 413 tot 426 nC), is onder meer ’n poging om sin te maak van hierdie amper onverstaanbare gebeurtenis. Versfeld argumenteer dat Afrikaners* in hulle tyd ook hulle “Rome”, naamlik die apartheids­bedeling*, sien val het. Juis daarom het dit vir hulle betekenis om Augustinus weer te lees. Versfeld was, benewens filosoof, ook natuurliefhebber en kok. So het hy oor kos gefilosofeer in sy “resepteboek”, Food for Thought. In Klip en klei (1968), Tyd en dae (1982) en Die neukery met die appelboom (1985) publiseer hy wysgerige essays met ’n eiesoortige wisselwerking tussen wat konkreet en wat abstrak is

Sidebar