VERSKYNING

VERSKYNING. Hierdie term verwys na die verskyning van Jesus* aan die einde van die tye (2 Tess 2:1-12), maar ook na Jesus se ontmoetings met sy volgelinge ná sy op­standing* en voor sy hemelvaart*. Dit word veral aan die einde van die vier Evangelies* beskryf: in Markus* se lang slot (16:9-20), die einde van Matteus* (28:9-20) en Lukas* (24:13-50). Aan die einde van die Johannes-Evangelie* (20:11–21:25) word uitgebreid vertel van verskynings aan verskeie mense. Die verskynings sluit fisieke aktiwiteite van Jesus in: Hy loop saam met die Emmaus­gangers (Luk 24:15); Hy praat by verskeie geleenthede met sy dissipels* (Matt 28:18-20; Luk 24:36-48); Hy eet saam met hulle (Joh 21:12). Tog word Hy nie altyd herken nie. Die Emmausgangers se oë word verhinder (Luk 24:16), maar Lukas maak dit duidelik dat dit nie beteken dat Jesus ’n geestelike bestaan het nie (Luk 24:39). ’n Belangrike aspek is die materiële: Jesus nooi sy dissipels uit om aan Hom te voel (Luk 24:39; Joh 20:27). Sommige navorsers meen dat die verskyning só vertel word in reaksie teen ’n dosetiese (dosetisme*) opvatting in die tyd van die ontstaan van die Evangelies wat wou hê dat Jesus nie werklik ’n menslike liggaam gehad het nie.

 

Sidebar