VERSOENDAG

VERSOENDAG. Die Groot Versoendag (Hebreeus*: jôm kippur) is tot vandag toe van besondere belang vir Joodse* gelowiges. Op die 10de van die sewende maand moes die hoëpriester* ’n reeks seremoniële aksies uit­voer en offers* bring om eers vir hom en sy huis en daarna ook vir die volk as geheel ver­soening* te doen. Hiermee is al die of­fers wat in die loop van die jaar gebring is, saamgevat in een verteenwoordigende seremonie. Slegs op dié dag mag die hoëpries­ter in die allerheiligste* van die tabernakel* en later die tempel* ingaan en daar die bloed van die offerdiere op die versoendeksel bo-op die ark*2 van die verbond* sprin­kel, want dit het die direkte teenwoor­dig­heid van die Here* verteenwoordig. Naas die een bok wat as sondeoffer “aan die Here” geoffer moes word, is ’n ander een “vir Asasel*”, met die sonde van die volk (deur handoplegging) in die woestyn ingestuur. Volgens sommige ou tekstradisies verteenwoordig Asasel ’n verlate plek; volgens later Joodse tradisies verwys dit na ’n soort woes­tynduiwel. Die betekenis van Asasel bly egter onduidelik. Die begrip “sondebok” kom uit die Griekse* vertaling hiervan. Die Versoendag word in Lev 16 beskryf, asook Lev 23:27-32; 25:9 en Num 29:7-11, met geen verdere Ou-Testamentiese* verwysings nie (vgl ook Heb 9:1–10:14). (Kyk ook: Groot Versoendag.)

Vir verdere lees: R de Vaux 1974. Ancient Israel – Its life and Institutions. New York: McGraw Hill.

Sidebar