VERSOENING

VERSOENING. In die Bybel. Die begrip versoening dui in die Bybel* in die eerste plek op die herstel van die verhouding tussen God en mense (vertikale dimensie). In die Ou Testament* word “versoening” gebruik om te verwys na die herstel van die verhouding tussen God en mens deur middel van ’n plaasvervangende offer*. Die lewe van die offerdier (gesimboliseer deur sy bloed) dien as plaasvervanger om die skuld van die sondaar* weg te neem (vgl Lev 1:4, 4:2; Eks 29:33; 1 Sam 3:14 en Jes 6:7). In die Nuwe Testament* is “versoening” een van die begrippe om te verduidelik hoe Christus* die mensdom verlos het. Hy is die “offer wat deur sy bloed versoening bewerk het” (Rom 3:25, vgl ook 2 Kor 5:18; 1 Joh 2:2). Volgens Hebreërs* is Hy die volmaakte Hoëpriester* wat Homself gegee het om die sondes* van die mensdom te versoen (Heb 2:17; 7:28). Die versoening het egter ook ’n horisontale dimensie deurdat die versoening wat Christus bewerk het, ook die onderlinge vyandskap tussen mense en groepe wegneem, bv tussen die Jode* en die heidene* in die kerk* (Ef 2:14-16). In die breedste sin van die woord sluit dit die hele kosmos* in (Kol 1:20). Dit neem egter nie die verantwoordelikheid van gelowiges weg om bedienaars van die boodskap van versoening te wees (2 Kor 5:18), eenheid in die kerk te bevorder (Ef 4:1-3), die herstel van gebroke verhoudinge aktief na te strewe (Matt 5:21-25) en harmonie in die skepping te bevorder nie.

In die kerkgeskiedenis het verskeie klassieke teorieë oor die versoening tussen God en  mens ontwikkel. Anselmus* se sg objektiewe versoeningsteorie beklemtoon God se inisiatief in die versoeningsproses. Mense staan skuldig voor God. Christus sterf aan die kruis* in ons plek, en bewerk sodoende die kwytskelding van ons skuld, asook ons versoening met God. Abelardus* se subjektiewe versoeningsleer dui aan hoe God se liefde vir ons wederliefde in ons opwek, wat die weg open vir versoening met God (2 Kor 5:11-21). Irenaeus* se versoeningsleer verkondig dat Christus die bose magte oorwin, mense daarvan bevry en so versoening met God bewerkstellig. Uiteenlopende beskouinge oor wat die horisontale implikasies vir die versoening tussen mense van die versoening tussen God en mens is, het ook ontwikkel. Die heersende klassieke beskouing is dat die versoening in Christus betrekking het op die direkte persoonlike verhouding tussen die gelowige en God, mede-gelowiges en ander medemense. In aansluiting by wat veral Paulus* oor die versoening leer, word die persoonlike verantwoordelikheid van gelowiges beklemtoon om mekaar, maar ook nie-gelowiges, te vergewe vir die kwaad wat hulle aangedoen is en versoening op die vlak van persoonlike verhoudinge na te strewe. Die versoening het egter geen implikasies vir hoe in die samelewing teenoor misdadigers opgetree word nie. In die samelewing moet wet en orde gehandhaaf word en oortreders gestraf word vir hulle misdrywe. ’n  Tweede beskouing vind aansluiting by Luk 4:14-21 wat leer dat Jesus* die koms van God se koninkryk* as die intrede van God se jubeljaar wat vryheid vir die gevangenes, verligting vir armes en genesing van siekes bring, aangekondig het. Volgens hierdie beskouing is God se versoening met die wêreld in Christus geldig vir alle dimensies van die lewe. Of straf opgelê moet word, word bepaal deur ’n versigtige oorweging van hoe versoening en genesing die beste bevorder kan word in die lewe van sowel die oortreder as die slagoffer.

Versoening in Suid-Afrika. Met die oorgang na ’n nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika is ook met die instelling van die Waarheid-en-versoeningskommissie* (WVK) ’n proses in werking gestel om versoening in die Suid-Afrikaanse samelewing te bevorder. Die wetgewing wat die mandaat van die WVK uitgespel het, het slegs vereis dat oortreders van menseregte* (van alle kante) gedurende die apartheid*-tyd “die waarheid” praat oor hulle wandade, waarop amnestie sou volg. Voorstanders van die WVK oordeel dat die voorwaardes vir amnestie voldoende was en dat die verhore wat gehou is, ’n belangrike bydrae tot versoening in Suid-Afrika gelewer het. Kritici oordeel dat die versoening wat bewerkstellig is, te oppervlakkig is. Hulle wys op die ontbreking van die elemente van berou en belydenis in baie gevalle, terwyl tog vergifnis van die slagoffers gevra is, die trae optrede van die regering ten opsigte van restitusie (skuldvergoeding) en die ontkoppeling van versoening en geregtigheid*, insluitende ekonomiese geregtigheid.

Vir verdere lees: HR Botman en RM Petersen (red) 1996. To remember and to heal: Theological and psychological reflections on truth and reconciliation. Kaapstad: Human & Rousseau; C Villa-Vicencio en W Verwoerd (red) 2000. Looking back, reaching forward: Reflections on the Truth and Reconciliation Commission of South Africa. Kaapstad: UCT Uitgewers; JW de Gruchy 2002. Reconciliation: Restoring Justice. Kaapstad: David Philip; AA Boesak 2005. The tenderness of conscience, African Renaissance and the Spirituality of Politics. Stellenbosch: SUN Uitgewers.    

 

 

Sidebar