VERVLOEKING

VERVLOEKING is die poging om deur voorspelling, wens of selfs gebed* teenspoed vir iemand of iets te bewerkstellig, en word in die Bybel* deur ’n verskeidenheid woorde in die oorspronklike tale uitgedruk. In die Ou Testament* word die Goddelike wet* deels deur die (dreigement van die) vloek in stand gehou (Lev 26; Deut 28–32). Die sewe en twintig tipes vloeke kan onder die breë rubrieke van neerlaag, siekte*, verlatenheid, ontneming, verbanning en dood* tuisgebring word, en behels waar­skuwings aan Israel* om nie te sondig nie. Jeremia* (11:3) en Paulus* (Gal 3:13) praat van die vloek wat met die wet gepaard gaan. Vloeke is met Goddelike mag* geassosieer (1 Sam 17:43). Jahwe* as die finale arbiter van waardes, kon vloeke uitspreek, maar dit ook laat verander in seën* (Deut 23:5; vgl Gal 3:13). Die tersydestelling van ’n vloek in die Nuwe Testament* word verbind met ’n tydperk waarin optrede en verwagtings radikaal verander het. Jesus* se opdrag om diegene te seën wat vervloek (Luk 6:28), stel eise aan sy volgelinge om die natuurlike gang van vervloeking te deurbreek. Op 22:3 voorspel die opheffing van die vloek (sonde*, siekte* en dood*), wat uit die Genesis*-sondeval* voortgespruit het.

 

Sidebar