VERWERPING

VERWERPING. In die Ou Testament* is dit hoofsaaklik Israel* van wie gesê is dat hulle God en sy voorskrifte verwerp, sy gesag teenstaan (Jer 2:20) en só sy verbond* verbreek (Lev 26:15). Gevolglik het die Here* op sy beurt ook sy volk* verwerp (2 Kon 17:18-20). Hy het hulle egter nooit heeltemal verwerp nie (Lev 26:44; Jes 41:9). In die Nuwe Testament* verwerp die Joodse* leiers Jesus* Christus* (Mark 8:31) en/of die evangelie* (Hand 13:46). Jesus waarsku ook dat dié wat Hom verwerp, eintlik vir God verwerp wat Hom gestuur het (Luk 10:16). In die Nuwe Testament word dit nêrens eksplisiet gestel dat God of Christus mense verwerp nie – inteendeel, Jesus self sal niemand wat na Hom toe kom, verwerp nie (Joh 6:37).

In gereformeerde* denke is verwerping op die oog af die logiese teenhanger van die uitverkiesing* uit genade* alleen. In Artikel 15 van Leerstuk 1 van die Dordtse Leerreëls* word uitdruklik van God se be­sluit van verwerping gepraat (ook soms die leer van die dubbele predestinasie* ge­noem). Dit word egter omskryf as God se besluit om sommige in die ewige uitver­kiesing verby te gaan en in die ellende te laat bly waarin hulle hulleself gedompel het. Hierdie besluit van verwerping maak egter, volgens die Dordtse Leerreëls, God hoegenaamd nie tot die bewerker van die sonde* nie. Hierdie leer van die verwerping was sedert die Hervorming* die kwesbare plek van die gereformeerde leer en het steeds teenstand ontlok omdat dit, volgens sommige, nie gerym kan word met God se liefde* nie. Dit lei dan ook tot baie kontroversie en tot alternatiewe denke soos dié van die Pelagianisme*, die Anabaptiste* en, in die moderne tyd, indirek tot die charis­matiese* bewegings.

 

Sidebar