VERWOERD, HENDRIK FRENSCH

VERWOERD, HENDRIK FRENSCH (1901–1966) het in ’n Christelike huis grootgeword ná die gesin se emigrasie in 1901 uit Nederland. Hy wou aanvanklik predikant* word, maar het later anders besluit. Hy het sy doktorsgraad in sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy tweede doktorsgraad, in sosiologie, het hy aan die Universiteit van Leipzig in die vooroorlogse Duitsland behaal. Hy is hier waarskynlik beïnvloed deur die opvlamming van nasionaal-sosialisme (Nazïsme*). As jong akademikus het Verwoerd aandag gegee aan die armoedevraagstuk onder blankes en sy entoesiastiese en wetenskaplike benadering het tot die totstandkoming van die departement Volkswelsyn in 1937 bygedra. In dieselfde jaar word hy stig­ter­redakteur van Die Transvaler waar hy ’n intellektuele leierskapsrol in die Nasionale Party begin vervul het. Hy tree in 1949 tot die politiek toe as senator voordat hy in 1950 in die kabinet van DF Malan* aange­stel is. As minister van Naturellesake het Verwoerd vinnig opgang gemaak en ná die dood van adv JG Strijdom*, destydse premier en sy persoonlike vriend, word hy in 1958 tot eerste minister verkies.

As uitbouer van die apartheidsbeleid*, wat Verwoerd later as afsonderlike ontwikkeling beskryf het en ook as aparte vryhede gesien is, wou hy selfregerende maar interafhanklike state in Suid-Afrika tot stand bring deur die verlening van selfregering aan etnies-gebaseerde tuislande. Daar is uiteindelik onafhanklikheid verleen aan vier voormalige tuislande, maar nie een van dié state is internasionaal erken nie. Hy het steeds daarop aangedring dat sy konsep van “groot apartheid” (aparte state) mét die behoud van “klein apartheid” (apartheid in die daaglikse lewe tussen wit en swart) moes funksioneer. Verwoerd se republi­keinse strewe is in 1960 met ’n referendum onder (wit) kiesers ’n groot stap verder ge­voer. Hy moes Suid-Afrika by die State­bondskonferensie in 1961 aan dié organi­sasie onttrek vanweë die afwysing van sy rassebeleid, maar republiekwording het in 1961 ’n werklikheid geword. Hierna is groot voorspoed op ekonomiese gebied beleef en die strewe na groter onafhanklikheid van buitelandse produkte het tot die ontwikkeling van eie nywerhede gelei. Verwoerd se gewildheid by wit kiesers het toegeneem, veral vanweë sy pogings om groter eensgesindheid met en samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes te bewerkstellig. Sy byna dienooreenkomstige ongewildheid onder swartmense, veral ná die Sharpeville-opstand van Maart 1960, het Suid-Afrika se internasionale beeld al ver­der geknou en die druk op Verwoerd laat toeneem. Vir die meerderheid Suid-Afri­kaners was sy ongenaakbaarheid ten op­sigte van rasseverhoudings onaanvaarbaar. Dit het daartoe bygedra dat hy op 9 April 1960 ernstig gewond is tydens ’n mislukte moordaanslag deur David Pratt by die Randse Paasskou in Johannesburg, waarna sy wonderbaarlike herstel sy gewildheid onder witmense tot ’n hoogtepunt gevoer het. Kerklike kritiek op sy beleid, soos met die Cottesloe-kerkeberaad* in Desember 1960, het hom nie van gedagte laat verander nie en hy het, deur hom tydens ’n radio­toespraak indirek tot die sinodes van die NG Kerk* te wend, seker gemaak dat dié kerk uiteindelik Cottesloe se besluite afgewys het. Op 6 September 1966 is hy deur ’n parlementêre bode, Dimitrio Tsafendas, tydens ’n tweede aanslag op sy lewe met ’n dolk in die parlement doodge­steek.

Verwoerd het in ’n stadium as kolos uitgetroon op die Suid-Afrikaanse toneel. Hy het aan die apartheidsbeleid ’n eties-ver­de­digbare aanskyn probeer gee. Vir die diepe onreg wat veral die stadswartes en die bruin­mense, sonder regstreekse verteen­woor­diging deur hulle eie mense in die parlement, intussen aangedoen is, het hierdie kolos uiteindelik ook nie ’n oplos­sing gehad nie.

 

Sidebar