VIA DOLOROSA

VIA DOLOROSA (Latyn vir “lydenspad”) is ’n straat in die ou gedeelte van Jerusa­lem* wat, volgens tradisie, die roete is wat Jesus* gestap het op pad na sy kruisiging op Golgota*. Die roete is gebaseer op ’n toewydingstaptog wat die Franciskane* in die 14de eeu gereël het. Op die pad is daar veertien sg “stasies van die kruis”. Die roete begin net buite Leeupoort (of Stefanuspoort) naby die huidige Umariya-laerskool. Dit is in die omgewing van Antoniaburg, Pontius Pilatus* se paleis, waar Jesus se verhoor plaasgevind het. Die veertien stasies van die lydenspad is:

  1. Die plek waar Jesus ter dood veroordeel is (vgl Joh 19:1-3). Dit is naby die huidige Flagellation-klooster.
  2. Die oomblik toe Jesus die kruis gekry het om te dra. Dit is naby die ruïne van ’n Romeinse konstruksie bekend as die Ecco Homo-boog (“Aanskou die mens”-boog) (vgl Joh 19:5) wat in 135 nC deur Hadrianus gebou is om die inname van Jerusalem te herdenk.
  3. Hierdie stasie gedenk die eerste plek waar Jesus onder die las van sy kruis geval het. Tans is daar ’n Armeniaanse kapel op dié plek gebou.
  4. Hierdie stasie handel oor die ontmoe­ting tussen Jesus en sy ma.
  5. Die plek waar Simon*7 beveel is om die kruis verder te dra (vgl Luk 23:26).
  6. Volgens tradisie is dit die plek waar Veronica Jesus se gesig afgevee het. Jesus se gesig sou op die sy-sluier afgedruk het, en dit word sedert die 8ste eeu in Rome bewaar.
  7. Op die kruising van die Via Dolorosa en die besige Markstraat, is die plek waar Jesus na bewering die tweede keer gestruikel en geval het.
  8. Hierdie stasie gedenk die plek waar Jesus oor die vroue van Jerusalem gehuil het (vgl Luk 23:27-31).
  9. Hierdie stasie handel oor die plek waar Jesus na bewering die derde keer geval het. Die volgende vyf stasies is almal binne-in die Kerk van die Heilige Graf.
  10. Dié stasie dui die plek aan waar Jesus vóór sy kruisiging sy klere moes uittrek (vgl Joh 19:23-24).
  11. Hierdie stasie roep die oomblik in herinnering toe Jesus aan die kruis vasgespyker is (vgl Joh 19:18).
  12. Dié stasie handel oor die oomblik toe die Verlosser van die wêreld gesterwe het (v­g­l Luk 23:46).
  13. Hier dink gelowiges oor hoe Jesus se liggaam van die kruis afgehaal is (vgl Luk 19:40).
  14. Die laaste stasie gee aandag aan hoe Jesus in die graf van Josef van Arimatea* weggelê is (vgl Luk 19:41-42).

 

Sidebar