VICTOR, PETER DANIËL (PIETIE)

VICTOR, PETER DANIËL (PIETIE) (1935–2003) het in Wynberg, Kaapstad, grootgeword, ’n ruk lank argitektuur stu­deer, as verkoopman en skilder gewerk, en in 1968 voltyds aan die Kweekskool op Stellenbosch begin studeer. Ná sy legitima­sie as predikant het hy en sy vrou, Annette, besluit om die werk waarmee hy reeds as Kerkjeugvereniging-(KJV-)voorsitter in Wyn­berg begin het, heeltyds voort te sit: straatwerk. In sy boek, Met Christus op straat: Jesus se liefde vir naglopers en almal wat na Hom vra (2001) vertel Victor die Kaapstadse straatwerkverhaal wat sy le­wens­werk geword het. Aanvanklik is die ou Tafelberg-hotel in Distrik Ses as “tuiste” vir naglopers en woningloses bekom, en in 1981 is die historiese huis op die landgoed Trovato vir dié doel gekoop. Victor was weldra landwyd bekend as die dominee wat die NG Kerk* straat toe geneem het, maar dit het lank geduur voordat die kerk kans gesien het om Victor en sy werk sinodaal te erken. Mettertyd het die kerk se oë oopgegaan en Victor is in 1985 as medeleraar van Wynberg bevestig met opdrag straatwerk in die Kaapse Skiereiland. Tien jaar later is Trovato verkoop, die geld belê om die werk mee te finansier, en het die straatwerkspan hulle intrek in die Magdalena-huis in Tygerberg geneem. Victor het sy emeritaat in 1996 aanvaar met straatwerk stewig gevestig. Onder die weggegooides, sukkelaars en verlooptes van die Kaap, het hy in daardie stadium “legendariese status” be­reik, het ’n dagblad later geskryf. Nadat hy as predikant afgetree het, het Victor die saak van die Afrikaner-Alliansie bevorder – ’n aksie wat Christen-Afrikaners wou ver­enig. Op 28 Augustus 2003 is hy langs sy huis in Durbanville deur rowers doodge­skiet. Hy het aan ’n skietwond in sy bors gesterf nadat hy sy buurvrou, wat deur inbrekers in haar huis aangehou is, probeer help het.

Sidebar