VICTORIA, ALEXANDRINA

VICTORIA, ALEXANDRINA (1819– 1901), koningin van Groot-Brittanje en Ierland en van die Britse Ryk, hoof van die Anglikaanse Kerk* en onderkoningin van Indië (1876–1901), was van Duitse afkoms via haar ma en kon tot die ouderdom van drie jaar slegs Duits praat. Sy het die grootste uitbreiding van die Britse Ryk tot meer as 10 miljoen vk km en 124 miljoen onderdane gedurende haar bewind beleef. Die Victoriaanse tydperk met sy besondere lewenstyl en -houding is na haar genoem en grotendeels deur haar verpersoonlik. Deftigheid, streng sosiale etiket, ’n sterk klassebewustheid, hooghartigheid, asook ’n geloof in die Anglo-Saksiese superioriteit en die reg tot imperiale verowerings en uitbreiding, was tipiese Victoriaanse kenmerke. Koningin Victoria was verwant aan verskeie Europese vorste van Germaanse afkoms. Sy was onafhanklik met ’n sterk persoonlikheid en het self die huweliksaanbod aan haar neef Albert van Sakse-Koburg gemaak voor hulle troue in Februarie 1840. Dit was ’n besonder gelukkige huwelik wat bygedra het tot die koningshuis se gewildheid. Victoria het dus noue bande met die Duitse keiserryk gehandhaaf. Koningin Victoria het selfstandig teenoor haar eerste ministers opgetree – met sommiges soos Benjamin Disraeli het sy goed oor die weg gekom, maar sy het gereeld met lord Palmerston en William Gladstone gebots. Dié wrywing was veral oor buitelandse verhoudings omdat Brittanje tydens haar bewind in baie oorloë soos dié in die Krim, Egipte, Soedan en in Suid-Afrika betrokke was. Brittanje se rol in die Anglo-Boereoorlog* (Suid-Afrikaanse Oorlog) en die gepaardgaande konsentrasiekampe wat tot die dood van duisende vroue en kinders gelei het, is ’n blywende vlek op Victoria se bewindstyd. Dáárvoor het geen Britse monarg sedertdien verskoning gevra nie.

Die beginsel van groter selfregering vir kolonies soos Australië en Nieu-Seeland is in die Victoriaanse era aanvaar. Sy het die begeertes en ideale van die hoër klasse verteenwoordig, maar was nie noodwendig onsimpatiek teenoor die werkersklas nie. Victoria se godsdienstige en morele waar­des soos lojaliteit, patriotisme, sterk familiebande en gedragskodes tussen verskillende geslagte, is algemeen nagevolg. Sy het ’n liefde vir die waarheid met ’n selfsugtige wil en hardkoppigheid gekombineer. Daar was ook ingrypende binnelandse hervor­mings soos die afskaffing van slawerny*, die deurvoering van die Reform Bills om stemreg uit te brei en die herroeping van die Corn Laws om vryer handel te vergemaklik. Die dood in 1861 van haar eggenoot, prins Albert, met sy groot werkywer en betrok­ken­heid as informele raadgewer, was vir Victoria ’n groot verlies – sy was daarna altyd in swart geklee.                       PH Kapp

Die standbeeld van koningin Victoria oorkant Buckinghampaleis. Sy was die eerste monarg wat in die pasvoltooide paleis gewoon het nadat sy die troon in 1837 bestyg het

Sidebar